Nuus 09:00
BULLETIN 10 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die meerderheid Suid-Afrikaners sê die regering doen nie genoeg om korrupsie te bekamp nie
# Sadou dreig met regstappe as die BELA-wet gewysig word
# En rugby: Die All Blacks pak die Springbokke vir die eerste keer in 12 jaar op Eden Park
# Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing sê 62-persent van die publiek glo die pogings van die regering om korrupsie te bekamp, is nie doeltreffend nie. Die raad het die bevindings van ‘n veeljarige studie getiteld Corruption and Behaviour Change: Tracking Social Norms and Values in South Africa, bekend gestel. Hy het bevind dat omkopery deur staatsamptenare tussen 2006 en 2023 sterk toegeneem het. Die raad sê die meerderheid van die publiek glo die wet is ten gunste van die rykes en mense met mag.
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie, Sadou, doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om te hou by Vrydag se spertyd en die twee finale klousules van die Bela-wet te onderteken. Ramaphosa het die wet in September bekragtig, maar weens teenkanting van die DA is die instelling van klousules vier en vyf vir drie maande uitgestel om onderhandelings en oplossings toe te laat. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê hulle gaan regstappe doen en staak as die Bela-wet gewysig word:
# Die ANC-jeugliga in Gauteng het na tien jaar nuwe leiers verkies by sy 15de provinsiale kongres in Boksburg. Ntsako Mogobe is die nuwe voorsitter en Jennifer Latifa sy adjunk. Mpume Sangweni is die sekretaris, Ziyanda Ncuru is adjunksekretaris terwyl Samu Khumalo as nuwe tesourier verkies is. Die liga se president, Collen Malatji, sê dis die jeug se verantwoordelikheid om die party se probleme tydens sy swakste oomblikke op te los:
# Israel se weermag sê hy het strategiese wapenstelsels en chemiese-wapenfasiliteite in Sirië aangeval om te keer dat dit in ekstremistiese groepe se hande beland. Dit volg na die skielike val van president Bashar al-Assad se regering waarna hy na Rusland gevlug het. Amerika en Turkye het ook aanvalle in Sirië uitgevoer. Die Syrian Observatory for Human Rights wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, sê daar was sedert Sondag meer as 100 aanvalle op militêre teikens.
# Rugby: Nieu-Seeland gaan op ses September volgende jaar die wêreldkampioen, Suid-Afrika, op Edenpark verwelkom. Dit sal die eerste keer sedert 2013 wees dat die All Blacks teen die Springbokke in Auckland kragte meet. Suid-Afrika het Nieu-Seeland in al vier van die twee spanne se laaste toetswedstryde geklop en gaan probeer om ‘n einde te maak aan die Kiwi’s se 50 agtereenvolgende toetsoorwinnings op Edenpark. Scott Robertson se span begin hulle 2025 veldtog met drie toetse in Julie op hulle tuisveld teen Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-331-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….