Nuus 09:00
BULLETIN 5 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sal ‘n mosie oor politieke befondsing verder ondersoek
# Meer as 300 skriftelike voorleggings is aan die verkiesingshervormingspaneel gedoen
# En ‘n soektog word van stapel gestuur na die moord op die uitvoerende hoof van UnitedHealthcare
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Binnelande Sake het eenparig besluit om ‘n voorstel oor die Wet op Politieke Befondsing aan wetenskaplike ondersoek te onderwerp. Die mosie hou verband met die hersiening van die 15-miljoen-rand jaarlikse perk op skenkings aan ‘n politieke party deur ‘n enkelpersoon of entiteit en die 100-duisend-rand openbaarmakingsperk vir skenkings aan partye en onafhanklike kandidate of verteenwoordigers. Die komitee se voorsiter, Mosa Chabane, sê die ondersoek moet die uitwerking van inflasie oorweeg in die bepaling van die boonste perk en die openbaarmakingsdrempel.
# Die Verkiesingsoorlegplegingspaneel sê hy het sowat 350 geskrewe voorleggings oor verkiesingshervorming insluitend van al 18 partye in die Parlement ontvang. Die paneel se taak is om die hervorming van die verkiesingstelsel te ondersoek en aanbevelings te doen vir die verkiesing van die Nasionale Vergadering en die provinsiale wetgewers. Michael Hendrickse van die party sê die verkiesingshervorming is nie ‘n wondermiddel vir die oplossing van al Suid-Afrika se probleme nie:
# Die DA in die Oos-Kaap doen ‘n beroep op die wetgewer se speaker, Helen Sauls-August, om ondersoek in te stel na die vermeende korrupsie by die wetgewer. Die bewerings sluit in ʼn ongemagtigde betaling van meer as drie-miljard-rand aan die ANC in September, en die versuim om elektroniese opgraderings in die wetgewer te doen, al is vier-miljoen-rand in 2021 daarvoor geoormerk. Yusuf Cassim van die DA sê die bewerings dui op ʼn wetgewer wat gekaap is deur korrupsie en verkwistende besteding:
# Die New Yorkse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n verdagte wat die uitvoerende hoof van UnitedHealthcare, Brian Thompson doodgeskiet het. Die 50-jarige is noodlottig gewond buite die Hilton-hotel in Mahattan. Die verdagte het gevlug sonder om enige van Thompson se besittings te vat en hy is laas op ‘n elektriese fiets in Central Park opgemerk. Die New Yorkse polisiekommissaris, Jessica Tisch, sê in die stadium lyk dit of dit ‘n voorafbeplande aanval was:
# Sokker: Die Engelse Premierliga-voorloper, Liverpool, se wedstryd teen Newcastle by St James Park het gelykop geëindig met drie elk. Die Reds was twee agter en het ingehaal met twee doele van Mohamed Salah. Doelwagter Caoimhin Kelleher se fout het in die 90ste minuut aan Fabian Schar kans gegee om die telling vir Newcastle gelykop te maak. Die heersende kampioen, Manchester City, het ʼn drie-nul-sege oor Nottingham Forest behaal. Arsenal het Manchester United met twee-nul geklop terwyl Chelsea Southampton met vyf-een verpletter het. Liverpool loop voor met sewe punte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-724-dollar-XX-sent. Die prys van goud is twee-duisend-648-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….