Nuus 09:00
BULLETIN 4 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die herontplooiing van minister Simelane is oneerbiedig
# Cosatu is ontsteld oor die inkrimping van die land se ekonomie
# En Namibië verkies sy eerste vroulike president
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa se besluit om Thembi Simelane as minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling te verwyder en as minister van Menslike Nedersettings te herontplooi, is kortsigtig en oneerbiedig teenoor Suid-Afrikaners. Die president was toenemend onder druk om haar te verwyder nadat dit aan die lig gekom het sy het gedurende haar termyn as Polokwane-burgemeester ‘n lening ontvang van ʼn maatskappy wat uit VBS Mutual Bank voordeel getrek het. Glynnis Breytenbach van die DA sê Simelane hoort nie in die Kabinet nie:
# Cosatu sê dit is teleurstellend dat die land se bruto binnelandse produk met 0,3-persent ingekrimp het in die derde kwartaal, vergeleke met die tweede kwartaal. Statistieke Suid-Afrika sê die belangrikste bydraers tot die afname is landbou, vervoer en kommunikasie. Zanele Sabela van Cosatu sê dit het vir ‘n kort rukkie gelyk asof daar verbetering is toe uitgebreide werkloosheid met 0,7-persent gedaal het en inflasie afgeneem het na 2,8-persent:
# Die EFF in Gauteng veroordeel gister se ontwrigting van die werk van die raad van die Emfuleni-munisipaliteit deur die ANC, voordat daar gestem kon word oor die wantrouemosie in die burgemeester Sipho Radebe. Die party sê die ANC het wanorde en boewery gebruik om die raadsvergadering te ontwrig en munisipale eiendom beskadig. Die EFF sê die ANC het opsetlik aanspreeklikheid en beheerstelsels ontwrig in Emfuleni sodat hulle korrupte en onwettige bedrywighede nie nagespoor kan word nie.
# Namibië het sy eerste vroueleier, Netumbo Nandi-Ndaitwah, van die regerende party Swapo, verkies. Die Verkiesingskommissie het aangekondig sy het meer as 57-persent van die stemme wat uitgebring is gekry, met haar naaste teenstander Panduleni Itula op 26-persent. Sy party die Independent Patriots for Change het egter die uitslag verwerp. Nandi-Ndaitwah het ook beter gevaar as haar party, wat 53-persent van die parlementêre stemme gekry het, wat minder is as die 65-persent van vyf jaar gelede. Sy sê die mense van Namibië het gestem vir vrede en stabiliteit.
# Motorsport: Formule Een se beheerliggaam, die FIA, beplan om reëls aan te pas om die maniere waarop sy leierskap aanspreeklik gehou word, te beperk. Die veranderinge beteken die FIA-president, Mohammed Ben Sulayem en die senaat se president, Carmelo Sanz De Barros, sal alle klagtes oor etiek hanteer en nie die senaat self nie. Ben Sulayem is vroeër vanjaar beskuldig dat hy ingemeng het by die uitslag van die 2023 Saoedi-Arabiese Grand Prix, en hy het aan FIA-amptenare gesê hulle moenie die Las Vegas-baan vir verlede jaar se wedren sertifiseer nie. Albei bewerings is verwerp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-885-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….