Nuus 09:00
BULLETIN 18 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa ondersteun Madagaskar se president met sy oorname van leierskap van die SAOG-streek
# Die ad-hoc parlementêre komitee oor die polisie gaan voort met sy werk
# En die VF Plus verwelkom Binnelandse Sake se samewerking met die privaatsektor in die uitreiking van ID’s en paspoorte
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika ondersteun president Andry Rajoelina van Madagaskar na sy oorname as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Die president het gister die 45ste SAOG-beraad in Antananarivo, Madagaskar, bygewoon. Die beraad het gefokus op die bespoediging van streeks-integrasie deur onder meer die versterking van nywerheidsvermoëns, modernisering van landbou en bevordering van inklusiewe energieoordrag. Ramaphosa sê hy het vertroue dat die SAOG onder Rajoelina se leierskap sal voortgaan om streeks-integrasie en ekonomiese veerkragtigheid te bevorder:
# Die Parlementêre ad-hoc komitee wat bewerings van die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sal ondersoek, vergader vandag om voort te gaan met sy opdrag. Die ANC wil hê die komitee moet vasstel of die bewerings waar is en nie om hulle te ondersoek nie. Die DA het voorgestel al die dokumente en bewyse van al die relevante getuies moet verkry word en die 121 vermiste dossiere van die Politieke Moordtaakmag moet ondersoek word. Die bewerings sluit in die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat tans met spesiale verlof is. Hy sou betrokke wees by misdaadsindikate en inmenging het by hoë-profiel ondersoeke.
# Die Vryheidsfront Plus het die Departement van Binnelandse Sake se uitbreiding van sy digitale bankvennootskappe verwelkom. Bykomende finansiële instellings sal nou help om identiteitsdokumente en paspoorte uit te reik. Sowat 840 takke van Capitec, FNB, Absa, Discovery en Standard Bank is by hierdie projek betrokke. ‘n VF Plus-woordvoerder, Philip van Staden, sê hierdie inisiatief sal nie net die druk op Binnelandse Sake se kantore verlig nie, maar ook seker maak mense hoef nie meer ure lank by oorvol kantore in toue te staan en wag om gehelp te word nie.
# Die Stad Tshwane se Forensiese Dienste en die Tshwane Metropolisie het ‘n persoon ontdek wat hom voordoen as ‘n wettige werknemer by die stad se Rietvlei-waterbehandelingsaanleg. Dit volg op ‘n versoek van die Kantoor van die Hoofbedryfsbeampte om identiteitsbedrog te ondersoek in die geval van ‘n personeellid met die naam Prince. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê dit het aan die lig gekom dat die individu in 2012 deur die stad in diens geneem is onder die naam Mohlaume Geoffrey Mamabolo, ten spyte van teenstrydighede in sy amptelike identiteitsdokument op lêer:
# Gholf: Die wêreld se nommer-een speler, Scottie Scheffler, het ‘n vier houe agterstand in vyf putjies uitgevee en die BMW Kampioenskap in Baltimore, Maryland gewen. Dis sy 18de PGA Toernooi-titel. Die Amerikaner het afgesluit met ‘n drie onder baansyfer 67 vir ‘n oorwinning van twee houe oor die Skot Robert MacIntyre en is nou die eerste speler sedert Tiger Woods wat die PGA Toernooi ten minste vyf keer in opeenvolgende jare gewen het. Die Amerikaner Maverick McNealy was derde met die Noord-Ierse speler Rory McIlroy in ‘n gedeelde 12de posisie. Scheffler sê die finale ronde was baie moeilik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-479-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….