Nuus 09:00
BULLETIN 17 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verwelkom die tussentydse hofbevel oor mynskagte in die Stilfontein-gebied wat in onbruik is
# Die instandhouding aan die tonnels van die Lesotho Hoogland-waterprojek sal waterbeskikbaarheid verbeter
# En, tennis: Sinner pak Fritz in die stryd om die ATP-finaal-kroon
# Die polisie verwelkom gister se tussentydse hofbevel van die Hooggeregshof in Gauteng vir die beskerming van onwettige mynwerkers wat nog ondergronds is by die Stilfonteinmyn in Noordwes, wat in onbruik is. Die opdrag gee hulle kans om vrywillig uit te kom en verbied die versperring van die skagte. Die woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe, sê hulle statiese operasies duur voort by alle agtergelate mynskagte in die gebied. ‘n Beroep word weer gedoen op alle onwettige mynwerkers om na die oppervlak te kom. Sy sê die bevel keer nie dat die polisie hulle grondwetlike taak uitvoer nie:
Op sy beurt eis COPE dat die regering dringend optree om die Wet op Mynrehabilitasie en -sluitings af te dwing na die tragedie in Stilfontein. Erick Mohlapamaswi van COPE sê die Departement van Minerale Bronne en Energie se mislukking om mynrehabilitasie en -sluiting te verseker, het onwettige myners in gevaar gestel, en die regering se versuim blootgelê:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê instandhouding aan die tonnels van die Lesotho Hoogland Waterprojek sal waterbeskikbaarheid verbeter. Hy het tydens ‘n inspeksie in die Vrystaat verwys na die rol van die tonnel om Gauteng via die Vaalrivier van water te voorsien. Die tonnel is tot Maart 2025 vir roetine-instandhoudingswerk gesluit. Mahlobo vra geduld ten spyte van die voortgesette wateruitdagings:
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het gister in Turyn met 6-1, 6-2 klaargespeel met Casper Ruud van Noorweë. Hy het voor ‘n geesdriftige tuisskare deurgedring na die beslissende wedstryd van die ATP-finaal teen die Amerikaner Taylor Fritz. Fritz, wat die eerste Amerikaanse Finaal-wenner wil word sedert Pete Sampras, het seker gemaak van sy plek met ‘n opwindede oorwinning oor Alexander Zverev in die ander halfeindstryd. Dit gee hom die kans om wraak te neem teen Sinner, wat hom geklop het in die eindstryd van die Amerikaanse Ope.
# En, ‘n halssnoer wat vermoedelik juwele bevat uit Marie Antoinette se berugte Saak van die diamant-halssnoer is opgeveil vir meer as 85-miljoen-rand. Die juwele was vermoedelik deel van die skandaal wat uiteindelik tot die Franse koningin se ondergang gelei het. Die skandaal is veroorsaak nadat ‘n edelvrou met geldprobleme, Jeanne de la Motte, haar as Marie Antoinette voorgedoen het om die juwele in die hande te kry. Marie Antoinette is onskuldig bevind aan aandadigheid, maar haar reputasie het nooit herstel nie. Die halssnoer uit die Georgiaanse tydperk is 50-jaar gelede laas in die openbaar gesien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….