Nuus 09:00
BULLETIN 15 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsdepartemente skuld munisipaliteite sowat 29,4 miljard-rand
# Die DA in Tshwane sê die metro kan nie verpligtinge aangaan wat vordering sal knou nie
# En Italië ontbloot ‘n mafia-misdaadkring wat BTW-bedrog in Europa pleeg
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, maan regeringsdepartemente om hulle munisipale skuld te betaal. Die departemente skuld munisipaliteite sowat 29,4-miljard-rand. Hlabisa het op vrae in die Parlement gesê sy departement wil seker maak planne vir finansiële herstel by munisipaliteite gee voorkeur aan langtermyn-volhoubaarheid en word doeltreffend ingestel:
# Die Mededingingstribunaal het die Cancer Alliance die reg gegee om deel te neem aan die saak teen die Switserse munlti-nasionale gesondheidsorgmaatskappy, Roche Holdings AG en sy filiale. Die Mededingingskommissie het ‘n klagte by die Mededingingstribunaal ingedien en beweer Roche oortree die Wet op Mededinging deur ‘n buitensporige prys vir Trastuzumab te vra. Dit is ‘n lewensreddende behandeling vir ‘n aggressiewe soort borskanker. Die kommissie beweer ook die buitensporige pryse is ‘n skending van basiese menseregte insluitend toegang tot gesondheidsorg.
# Die DA in Tshwane sê die onderburgemeester, Eugene Modise, moet die finansiële herstel van die metro vooropstel wanneer hy met vakbonde onderhandel om loongeskille op te los. Jacqui Uys van die party sê die finansiële vertoning van die metro in die eerte kwartaal van die boekjaar, onder die DA regering, toon ‘n verbetering. Sy sê die administrasie moet op dié momentum voortbou en nie finansiële verbintenisse aangaan wat vooruitgang sal kniehalter nie:
# Italiaanse ondersoekers het ‘n misdaadsindikaat met mafia-bande ontmasker wat BTW-bedrog in Europa uitvoer. Sowat 40 lasbriewe vir arrestasies is uitgereik en goedere van sowat 10-miljard-rand is gekonfiskeer. ‘n Regter in Milaan het gelas dat die sindikaat ondersoek word vir oorgrens-BTW-bedrog deur middel van die verkoop van rekenaar- en inligtingstegnologie-toerusting, en geldwassery van die winste. Die polisie in Bulgarye, Kroasië, Ciprus, die Tsjeggiese Republiek, Luxemburg, Nederland, Slowakye, Spanje en Switserland, sowel as die Verenigde Arabiese Emirate, het ook klopjagte uitgevoer en goedere in beslag geneem.
# Krieket: Engeland het die Wes-Indiese Eilande met drie paaltjies in die derde T20 op St Lucia geklop en loop nou voor met drie – nul in die reeks van vyf. Ondanks kaptein Rovman Powell se indrukwekkende 54, is die tuisspan tot 145 vir agt in hulle 20 boulbeurte beperk. Saqib Mahmood en Jamie Overton het drie paaltjiese elk laat kantel. Die besoekers het aanvanklik gesukkel met die telling op slegs 37 vir drie, maar Sam Curran en Liam Livingstone het gehelp met die herstel en Engeland het die teiken gehaal met vier balle oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-563-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-568-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….