Nuus 09:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 13 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra vir ‘n noodtoestand oor die voedselvergiftigingskrisis
# Die Wêreldvoedselprogram waarsku 33-miljoen Nigeriërs kan in 2025 honger ly
# En gholf: Die Oostenrykse en Turkse Ope en die Nedbank Challenge keer terug na die DP World Tour
# ActionSA het president Cyril Ramaphosa versoek om ‘n noodtoestand af te kondig ná die toenemende voedselvergiftigingsvoorvalle. Athol Trollip van ActionSA het die Parlement toegespreek en bevestig twaalf gesinne het hul kinders begrawe en honderde is in die hospitaal opgeneem. Die kinders wat ter sprake is, het na bewering produkte by spaza-winkels gekoop. Hy beklemtoon arm gemeenskappe word die meeste geraak en vra vinnige optrede om hierdie toenemende krisis te voorkom:
Die parlementêre gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel, sê intussen die regering van nasionale eenheid moet die voedselvergiftiging wat met spazawinkels verbind word, vinnig hanteer. In Gauteng alleen is meer as 400 gevalle en 23 sterftes aangemeld. Meer as 200 mense het in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo en die Oos-Kaap siek geword. Die komiteevoorsitter, Sonja Boshoff, sê die nasionale departemente moet ‘n reaksiestrategie opstel. Sy sê dit sal jammer wees as die debat ontaard in ʼn verskoning vir xenofobiese aanvalle op buitelanders.
# Die kommissaris van polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het ‘n onmiddellike ondersoek en tugstappe gelas teen ‘n polisiebeampte wat glo ‘n burgerlike in Durban aangerand het. ‘n Video wys hoe die beampte ‘n persoon aanrand wat oënskynlik geen gevaar vir hom inhou nie. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê hulle kan nie ‘n situasie toelaat waarin die vordering deur hardwerkende polisiebeamptes ongedaan gemaak word deur die optrede van sekere individue nie:
# Rekord-inflasie, klimaatskokke en voortslepende konflik sal volgens aanduiding die aantal mense sonder voedselsekuriteit in Nigerië in 2025 tot 33-miljoen laat styg. Dit is tans 25-miljoen wat van hulp afhanklik is. Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê 5,4-miljoen kinders en 800-duisend swanger of borsvoedende vroue word deur erge wanvoeding in die gesig gestaar. Die Wêreldvoedselprogram sê hulp word onmiddellik benodig om ‘n moontlike voedsel- en voedingsramp te verhoed.
# Gholf: Die Oostenrykse en Turkse Ope, asook die Nedbank-uitdaging in Suid-Afrika, is weer op die DP World Tour se 2025-program. ʼn Minimum van 42 toernooie sal deur die jaar in 26 lande aangebied word. Die Europese toernooi keer die eerste keer sedert 2019 terug na Turkye en vind die eerste keer sedert 2021 weer in Oostenryk plaas. DP World se uitvoerende hoof, Guy Kinnings, sê die 2025-program demonstreer en vier weereens die toernooi se ware globale aard.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-494-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-610-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….