Nuus 09:00
BULLETIN 7 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Joe Biden sê Kamala Harris is deel van die ware Amerikaanse verhaal
# Die VF Plus sê Donald Trump se oorwinning is ‘n oorwinning vir ware demokrasie en gesonde waardes
# En prins William kondig die Earthshot-pryswenners aan
# Amerika se president Joe Biden sê hy twyfel nie dat visepresident Kamala Harris haar steeds sal beywer vir kwessies wat tydens haar veldtog belangrik was nie. Hy het sy veldtog vir ‘n tweede termyn in Julie beëindig en Harris ondersteun, wat egter teen gekose president Donald Trump verloor het. Biden sê sy het onder buitengewone omstandighede ingespring en ʼn geskiedkundige veldtog gelei wat tekenend was van wat moontlik is wanneer ʼn sterk morele kompas en ʼn duidelike visie vir die nasie iets rig. Hy sê haar storie is die beste deel van Amerika se storie.
Plaaslik sê die Vryheidsfront Plus die verkose Amerikaanse president Donald Trump se oorwinning is ook ‘n oorwinning vir ware demokrasie. Trump het ‘n oortuigende oorwinning behaal oor visepresident Kamala Harris deur vyf van die sewe strydstate in te palm. Corné Mulder van die VF Plus sê dit is duidelik dat gesonde waardes, sekerheid en ‘n sterk ekonomie steeds die hoofaanvuurders is wat gewone kiesers na die stembus lok:
# Die EFF in Gauteng het Ekurhuleni se Departement van Water en Sanitasie gelukgewens met die bekendstelling van die #SaveEveryDrop-veldtog. Die veldtog wil waterbesparing bevorder en ‘n volhoubare toekoms vir inwoners verseker. Die woordvoerder van die EFF, Baleni Dumisani, sê die inisiatief is veral belangrik in die lig van die huidige wateruitdagings wat onder meer veroorsaak is deur bevolkingsgroei, verouderde infrastruktuur, tegniese waterverliese, oorgebruik, droogte en klimaatsverandering:
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Engeland met agt paaltjies geklop in die derde en laaste eendagwedstryd in Barbados en die reeks met twee-een ingepalm. Phil Salt het 74 lopies bygedra, met Engeland wat 263 vir agt aangeteken het, terwyl Matthew Forde drie paaltjies laat kantel het. In antwoord het Brandon King en Keacy Carty beide honderdtalle aangeteken in ‘n vennootskap van 209 lopies om die tweede paaltjie. Die Windies het die teiken bereik met nog sewe boulbeurte oor. Die twee spanne kom van Saterdag af in ‘n T20-reeks van vyf wedstryde in Barbados weer teen mekaar te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-820-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-33-sent per vat.
# En, die wenners van die Earthshot-prys-toekennings is gisteraand op ‘n geleentheid in Kaapstad aangekondig. Die Earthshot-prys, wat in die lewe geroep is deur die Prins van Wallis, steun wêreldwyd volhoubare, eko-vriendelike projekte. Onder die wenners is die Green Africa Youth Organisation, wat gedragsverandering gebruik om gemeenskappe te help om rommel op te ruim, en Keep IT Cool, ‘n maatskappy in Kenia met sonkragaangedrewe verkoeling boere help om oes-afval te beperk. Prins William sê die Earthshot-prys is ‘n samewerkende beweging vir verandering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….