Nuus 09:00
BULLETIN 6 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump loop tans voor met kieskollege-stemme in die Amerikaanse presidentsverkiesing
# ‘n Ekonoom sê die spanning in die Midde-Ooste hou die oliepryse veranderlik
# En tennis: Aryna Sabalenka is die wêreld se nommer een op die jaareind-puntelys
# Amerika se visepresident Kamala Harris en oudpresident Donald Trump behaal steeds oorwinnings in state waar hulle verwag om te wen, terwyl die tellery voortgaan. Volgens die jongste uitslag wen Harris in Colorado, Delaware, Washington DC, New Jersey en New York, terwyl Trump in Ohio, Alabama, Iowa, Louisiana en Arkansas gewen het. Die voormalige president het ‘n kort rukkie gelede 230 stemme in die kies-kollege gehad teenoor Harris se 182. ʼn Kandidaat moet minstens 270 kieskollege-stemme kry om president te word.
# ‘n Senior ekonoom van FNB Koketso Mano sê die bedreiging van leweringsontwrigtings en geopolitiese konflik in die Midde-Ooste hou steeds oliepryse veranderlik. ‘n Verhoging in brandstofpryse word in November verwag na vyf maande van agtereenvolgende verlagings. Die binnelandse prys van 95 loodvrye brandstof sal met 25-sent per liter styg, terwyl die kleinhandelprys van diesel min verander teen onder 19-rand per liter. Mano sê ondanks dié maand se verhoging, is pryse by die vulstasie tien-persent later as ‘n jaar gelede:
# Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene, sê die 45 nuwe Rea Vaya-toevoerbusse in Soweto sal tot verdere kennisgewing nie bedryf word nie. Die jongste konflik tussen Rea Vaya en die taxibedryf het Maandag uitgeloop op nog ‘n opskorting van bus-operasies, wat duisende Rea Vaya-pendelaars gestrand gelaat het. Taxi-verenigings is kwaad oor die ontplooiing van toevoerbusse om stukkende voertuie te vervang. Kunene sê pendelaars het steeds toegang tot Rea Vaya-busse buite die Soweto-gebied:
# Die adjunk- uitvoerende direkteur van die Internasionale Energieagentskap, Mary Burce Warlick, beklemtoon die dringende behoefte aan groter befondsing vir Afrika se energiesektor. Warlick het ‘n afvaardiging by die Afrika Energieweek 2024 in Kaapstad toegespreek en gesê Afrika ontvang net vier-persent van wêreldwye beleggings in energie hoewel 20-persent van die wêreld se bevolking daar woon. Sy beklemtoon befondsing moet aangemoedig word, veral vir skoon energie en industrialisasie, en dit is van kritieke belang om universele toegang tot energie op die vasteland te bereik.
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus is die eerste keer in haar loopbaan die wêreld se nommer een op die jaareind-puntelys. Die heersende kampioen van die Australiese en Amerikaanse Ope is die 16de vrou in WTA-geskiedenis om ʼn jaar as nommer een af te sluit. Hierdie prestasie is bevestig nadat die Amerikaner Coco Gauff die verdedigende kampioen van die WTA-jaareindtoernooi, Iga Swiatek van Pole, geklop het om die halfeindronde in Riaad, Saoedi-Arabië te haal. Sabalenka sê dit voel soos ʼn droom:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-865-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….