Nuus 09:00
BULLETIN 1 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die miljoene wat aan ‘n advertensieveldtog vir NGV bestee word, is absurd
# Die DA in Tshwane gaan ‘n saak indien teen die speaker van die raad
# En Kamala Harris beskuldig Donald Trump dat hy nie die vryheid van vroue respekteer nie
# Die Vryheidsfront Plus sê dis duidelik dat advertensieveldtogte vir die Nasionale Gesondheidsversekering meestal geldmors en ongeregverdig was. Die Gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, het onthul 89-miljoen-rand is aan NGV-advertensieveldtogte bestee en dat die uitgawe nie waarde vir geld gebied het nie. Philip van Staden van die VF Plus sê dit wys hoe desperaat die regering is om sy onpraktiese planne aan die publiek te verkoop en boonop hulle belastinggeld daarvoor te gebruik:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika sê hy neem kennis van Eskom se voorneme om die Hooggeregshof te nader vir die tersydestelling van sy besluit om vier nuwe handelslisensies toe te ken. Die kragnutsmaatskappy herhaal sy teenkanting om meer as een lisensiehouer toe te laat om krag in dieselfde gebied te voorsien. Hy voer aan die goedkeuring is gedoen in die afwesigheid van ten volle ontwikkelde handelsregulasies. Nersa sê hy het nog nie Eskom se hofaansoek ontvang nie.
# Die DA in Tshwane sê die ANC-ActionSA-EFF-koalisie het demokrasie aangeval deur geweld te gebruik om opposisie-raadslede stil te maak. ‘n Uiters belangrike raadvergadering het gister in geweld ontaard toe twee DA-raadslede wat beskuldig is dat hulle chaos veroorsaak het, met geweld deur privaat sekuriteitswagte uit die raadsaal verwyder is. Tydens die voorval het sommige raadslede hande geklap, geskreeu en gehekel terwyl andere die petalje met selfone afgeneem het. Cilliers Brink van die DA sê hulle gaan ‘n saak teen die raad se speaker, Mncedi Mdzwanana en ander betrokkenes oor die voorval open:
# Amerika se visepresident Kamala Harris beskryf oudpresident Donald Trump se onlangse opmerking oor vroue as verregaande en sê hy respekteer nie vroue se vryheid nie. Trump het gesê hy sal vroue in Amerika beskerm of hulle daarvan hou of nie. Harris het by ‘n saamtrek in die swaaistaat Nevada gesê Trump wil ʼn nasionale verbod op aborsies plaas, toegang tot geboortebeperking verminder, in vitro-behandeling in gevaar stel en state dwing om vroue se swangerskappe te monitor.
# Tennis: Die Fransman Ugo Humbert het die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz uit die Paryse Meesters geboender om die kwarteindronde te haal. Humbert, wat sy derde ATP Tour-titel die seisoen jaag, het die Spanjaard geklop. Die wêreld se nommer drie, Alexander Zverev het Arthur Fils van Frankryk in die derde ronde verslaan om sy 31ste kwarteindronde van die ATP Masters 1000 te bereik en die sesde een vanjaar. Daar was ook oorwinnings vir Grigor Dimitrov van Bulgarye, Stefanos Tsitsipas van Griekeland en Alex de Minaur van Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-367-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….