Nuus 09:00
BULLETIN 31 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê die gewone benadering tot die begroting sal nie werk skep nie
# Die DA in Gauteng vra vir ‘n ondersoek na die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling
# En ‘n rekord 8,2-miljoen nuwe TB-gevalle is verlede jaar wêreldwyd aangemeld
# Cosatu sê hy is teleurgesteld met die Tesourie se geykte benadering om Suid-Afrika se diepliggende ekonomiese en bestuurskrisisse te takel. Die vakverbond het gereageer op die mediumtermynbegroting. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê die basiese uitdagings wat die nasie in die gesig staar, is ‘n trae ekonomie en stygende werkloosheidsyfer van 42,6-persent:
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen hy wil duidelikheid hê of die planne wat in die middeltermynbegroting aangekondig is, werklik in die ware behoeftes van die ekonomie en die landbou sal voorsien. Bennie van Zyl van TLU SA sê die fokus van die regering van nasionale eenheid op inklusiewe groei en werkskepping is waardevol, maar die bekommernis is dat werklike uitdagings soos korrupsie en wanbestuur nog nie werklik aangespreek is nie:
# Die DA in Gauteng vra dat die voortslepende tekortkominge in die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ondersoek word. ʼn Party-woordvoerder, Refiloe Nt’sekhe, sê die departement haal sedert 2018 gereeld nie sy teikens nie wat ʼn nadelige uitwerking het op vele kwesbare inwoners wat op hierdie noodsaaklike dienste staatmaak. Sy sê ʼn ondersoek is noodsaaklik vir aanspreeklikheid en beter prestasie in die toekoms:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê ‘n rekord 8,2-miljoen nuwe gevalle van tuberkulose is verlede jaar wêreldwyd gediagnoseer, die hoogste syfer sedert daar in 1995 wêreldwyd met die monitor van TB begin is. Die aantal TB-verwante sterftes het van 1,32-miljoen in 2022 tot 1,25-miljoen verlede jaar gedaal. Nie alle nuwe gevalle word egter gediagnoseer nie, en die WGO skat ongeveer 10,8-miljoen mense het verlede jaar werklik die siekte opgedoen. Indië, Indonesië, China, Filippyne en Pakistan het meer as die helfte van die wêreldwye TB-gevalle en meer as ‘n kwart van die gevalle word in Indië alleen aangetref.
# Sokker: Die verdedigende kampioen van Liverpool is deur na die Carabao-beker se kwarteindronde nadat hulle Brighton met drie-twee verslaan het. Arne Slot se span speel teen Southampton vir ʼn plek in die halfeindronde. Tottenham Hotspur het Manchester City se onoorwonne lopie beëindig deur hulle met twee-een te klop. Tottenham kom in die kwarteindronde teen Manchester United te staan nadat die Rooi Duiwels Leicester City met vyf-twee afgeransel het. Newcastle het verlede seisoen se naaswenners, Chelsea, met twee-nul uitgeskakel terwyl Arsenal met drie-nul met Preston afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-317-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-783-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….