Nuus 09:00
BULLETIN 14 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motshekga sal die opmerkings van die Suid-Afrikaanse weermaghoof in Iran met hom bespreek
# AgriSA eis dat die Konsep-mynbouwetsontwerp teruggetrek word
# En een persoon is dood nadat e-taxivoertuie by Maponya Mall aan die brand gesteek word
# Die Ministerie van Verdediging en Militêre Veterane distansieer homself van opmerkings wat generaal Rudzani Maphwanya van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Iran gemaak het. Hy en Iran se weermagbevelvoerder, majoor-generaal Amir Hatami, het volgens berigte hul lande se gemeenskaplike doel om globale arrogansie en aggressiewe koloniale benaderings te beveg, geloof. Maphwanya het ook Israel se vermeende aanvalle op Palestyne wat in rye staan vir kos, veroordeel. Die ministerie se woordvoerder, Onicca Kwakwa, sê minister Angie Motshekga sal met Maphwanya praat:
Die DA het hom ook hieroor uitgespreek en gesê buitelandse beleid is die regering se verantwoordelikheid en nie die weermag s’n nie. Die party waarsku die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaghoof Rudzani Maphwanya se politieke verklarings hierdie week tydens ‘n besoek aan Iran, kan Suid-Afrika se betrekkinge met belangrike bondgenote, insluitend die VSA, benadeel. Chris Hattingh van die DA sê Maphwanya se gesprekke het wyer gestrek as militêre besprekings toe hy Iran se standpunt oor Gaza ondersteun het en ‘n beroep op nouer bande gedoen het:
# AgriSA het die regering versoek om die Konsep-wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne terug te trek, en gewaarsku dat dit gevare vir landbou, voedselsekerheid en landelike lewensbestaan inhou. Die organisasie sê die wetsontwerp laat mynbou toe op gehalte landbougrond sonder behoorlike raadpleging, vergoeding of omgewingsbeskermingsmaatreëls. AgriSA doen ‘n beroep op ‘n volledige sosio-ekonomiese impakstudie en sterker toestemmingswette vir grondeienaars. Hy vra gebalanseerde hulpbronontwikkeling wat boere se regte, watergehalte en langtermyn-voedselsekerheid beskerm en die versekering dat mynbou en landbou saam kan bestaan.
# Een persoon is dood en twee ander beseer nadat onbekende verdagtes gisteraand e-taxi’s by die Maponya-winkelsentrum in Pimville, Soweto suid van Johannesburg, aan die brand gesteek het. Die woordvoerder van die polisie, Dimakatso Nevhuhulwi, sê ‘n e-taxi is gesien waar dit by die ingang van die sentrum stilgehou het. Vier mans het na die bestuurder geloop en hom geskiet voordat die voertuig aan die brand gesteek is. Daar is ook op ‘n ander voertuig geskiet, maar die bestuurder kon ontsnap:
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner van Italië het deurgedring na die kwarteindronde van die Cincinnati Ope nadat hy die Franse kwalifiseerder Adrian Mannarino verslaan het. Die wêreld se nommer twee speler Carlos Alcaraz van Spanje, het die Italianer Luca Nardi verby gesteek en die Franse kwalifiseerder Terence Atmane het die Amerikaner Taylor Fritz geskok. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen Aryna Sabalenka van Belarus deurgeseil na die kwarteindronde met ‘n oorwinning oor Jessica Bouzas Maneiro van Spanje. Iga Swiatek van Pole het ook die laaste agt gehaal met ‘n oorwinning oor Sorana Cirstea van Roemenië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-392-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-360-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….