Nuus 09:00
BULLETIN 21 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Gesondheid sê die voedselvergiftiging is deur ‘n chemiese middel veroorsaak
# Die MK-party sal vandag klagtes teen die Nasionale Tesourie indien
# En die VN-hoof veroordeel die moord op Mosambiekse opposisielede
# Die Departement van Gesondheid sê die onlangse vlaag voedselverwante siektes en sterfgevalle, veral by skole, is kommerwekkend. Die Gautengse Gesondheidsdepartement het die afgelope jaar 203 gevalle van voedselvergiftiging en ses sterftes aangemeld. In Limpopo is 35 leerders ‘n week gelede vir moontlike voedselvergiftiging behandel. Die departement se nasionale woordvoerder, Foster Mohale, sê ses staatsliggame, insluitend die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, het tydens ʼn vergadering tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn chemiese middel die oorsaak is:
# Die MK-party gaan vandag klagtes van bedrog en korrupsie by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria indien teen die Nasionale Tesourie. Dit is oor die een-miljard-rand kontrak vir die Geïntegreerde Finansiële Bestuurstelsel. Die Ouditeur-Generaal het verlede week aan die Parlement gesê die tender, wat op bedrieglike wyse toegeken is aan Oracle, het uitgeloop op finansiële verliese van meer as 400-miljoen-rand. Die kontrak was vir die aankoop van ‘n stelsel van Oracle met beloftes van integrasie en verbeterings in munisipale finansies.
# Die ANC sê hy bly verbind om gehalte-onderwys te verseker en leerders te ondersteun deur veldtogte wat veerkragtigheid en uitnemendheid bevorder. Die party wens alle matrieks voorspoed toe met hul Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen wat vandag begin. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die Departement van Basiese Onderwys wil seker maak alle standaarde word gehandhaaf om ʼn geloofwaardige eksamineringsproses te verseker:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies António Guterres het die moord veroordeel op ‘n Mosambiekse opposisieprokureur en ‘n party-amptenaar. Gewapende mans het die motor aangeval waarin Elvino Dias, ‘n regsadviseur van die presidensiële kandidaat Venâncio Mondlane, en Paulo Guambe, ‘n senior woordvoerder van die opposisieparty, Podemos, gereis het. Hulle is op slag dood in die hoofstad Maputo. Die moorde het spanning laat opvlam te midde van bestrede verkiesingsuitslae. Guterres vra alle Mosambiekers, wat politieke leiers insluit, om alle vorme van geweld te verwerp voor die amptelike aankondiging van die verkiesingsuitslae.
# Sokker: Liverpool is terug bo-aan die punteleer van die Premierliga na ‘n twee-een-oorwinning oor Chelsea op Anfield. Mohamed Salah se strafdoel en Curtis Jones se wenner het dit tien oorwinnings in elf wedstryde vir die Reds gemaak sedert Arne Slot in beheer is. Die sege plaas Liverpool een punt voor die heersende kampioene Manchester City en vier voor Arsenal, teen wie hulle volgende op die Emirates speel. Slot sê die kragmeting met Chelsea was hulle taaiste toets tot nog toe dié seisoen:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-859-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-730-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….