Nuus 09:00
BULLETIN 20 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Tito Mboweni was ‘n aktivis in die stryd teen apartheid
# Die Hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot vra die stigting van ‘n Gekombineerde Eksklusiewe Maritieme Sone van Afrika
# En, rugby: Die Haaie is terug op die wenpad teen die verdedigende kampioene Glasgow
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige minister van Finansies Tito Mboweni het ‘n roemryke loopbaan gehad, maar hy was terselfdertyd nederig, minsaam en kon met homself spot. Ramaphosa het die huldeblyk gelewer op Mboweni se spesiale amptelike begrafnis in Tzaneen, Limpopo. Hy sê Mboweni was ‘n aktivis in die stryd teen apartheid en het ‘n invloedryke rol gespeel in die ontwikkeling van die ANC se ekonomiese beleid terwyl die party voorberei het om in 1994 die regering te word:
Ramaphosa voeg by Mboweni is gerespekteer deur toonaangewende ekonome, sakereuse, arbeidsleiers en gewone mense in die land. Hy sê ondanks sy statuur en profiel, het Mboweni nooit voeling verloor met die gewone lewe nie en het hy die gawe gehad om met mense te skakel:
# Die hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot Monde Lobese vra die stigting van ‘n Gekombineerde Eksklusiewe Maritieme Sone van Afrika, ‘n konsep wat samewerking sal bevorder oor grense heen, maritieme administrasie vaartbelyn sal maak en intra-Afrika handel sal bevorder. Die sone sal help om die Afrika-vasteland se maritieme sekerheid te verseker uit ‘n afdwinging- en bestuurstandpunt. Lobese sê terwyl die 2050 Afrika Maritieme Strategie ‘n belangrike voorwaartse stap was, is daar nog baie werk wat gedoen moet word.
# ‘n Koffie-oggend by ‘n kerk is na ʼn bomalarm blitsig beëindig nadat ʼn gemeentelid ʼn lewende ploftoestel na die geleentheid gebring het. ʼn Oorlogsgeskiedenis-entoesias het drie bomdoppe wat uit WWI dateer na die St Paul-kerk in Withington, Manchester gebring om aan ʼn ander entoesias te wys. Die polisie van Groter Manchester is ontbied nadat die verdagte toestel gerapporteer is. ʼn Kordon van 25-meter is rondom die gebou getrek en ʼn bomopruimingeenheid het die toestel onder beheerde omstandighede skadeloos gestel.
# En, rugby: Die Haaie het ‘n oorwinning van 28-24 behaal in hulle Verenigde Rugby Kampioenskapwedstryd teen Glasgow Warriors. Danksy twee bonuspunte is Glasglow Warrios egter nog steeds derde op die punteleer terwyl die Haaie nou opgeskuif het na tiende. In Kaapstad was die Springbok heelagter Damian Willemse op sy stukke op losskakel en het die span aangevuur tot ‘n 34-19-oorwinning oor die Ierse provinsie Munster. Die oorwinning skuif die Stormers van laaste op die punteleer na die tiende plek. Munster verlaat Kaapstad sonder ‘n bonuspunt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….