Nuus 09:00
BULLETIN 18 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa reageer op die EFF se oproep vir strenger maatreëls oor die Israel-Palestynse konflik
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê dis tyd om SEB van sy troontjie te laat tuimel
# En, Trevor Noah se nuwe boek is ʼn New York Times-topverkoper
# President Cyril Ramaphosa sê die uitvoerende gesag gee ernstige oorweging aan die Nasionale Vergadering se voorstel om Israel se ambassade te sluit en diplomatieke bande met die land te verbreek. Die voorstel wat die EFF ingedien het, is na aanleiding van voortgesette menseregteskendings in die konflik tussen Israel en die Palestyne. Ramaphosa het tydens vraetyd in die Parlement die regering se steun vir die Palestyne herbevestig en sê verskeie voorstelle word oorweeg om ingevolge internasionale reg druk op Israel te plaas:
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê peilings toon dat swart ekonomiese bemagtiging 85-persent van Suid-Afrikaners in die steek gelaat het, deur die staatsdiens skade te berokken en kanse vir bedrog verhoog het. Die minister van Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, beoog om ‘n beleidsopdrag aan die kommunikasiereguleerder, Okosa, uit te reik wat kan lei tot die hersiening van die swartbemagtigingsreëls wat die sektor vir inligting- en kommunikasietegnologie reguleer. Die instituut sê dit is tyd om SEB van sy troon te verwyder en ware nie-rassige bemagtigingsalternatiewe te ondersoek.
# Twee vroue verwant aan sersant Rachel Shkokane Kutumela, wat van moord op ses mense vir versekeringsuitbetalings aangekla word, is aangekeer. Kutumela het na bewering op bedrieglike wyse lewens- en begrafnisversekering vir verskeie slagoffers uitgeneem en het sedertdien tien-miljoen-rand geëis as die enigste begunstigde van verskeie diensverskaffers. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die twee vroue wat op verskeie aanklagte insluitend moord, bedrog en geldwassery tereg staan, sal vandag in die Polokwane Landdroshof verskyn:
# Rugby: Die Springbokvroue is in Groep D saam met Frankryk, Italië en Brasilië in volgende jaar se Rugby-wêreldbeker in Engeland. Suid-Afrika het in die eerste wedstryd van die vorige Rugby-wêreldbeker in Auckland teen Frankryk gespeel, en verlede naweek in die eindstryd van die Vroue-15 in Kaapstad teen Italië. Hulle het egter nog nooit in ‘n toetswedstryd teen Brasilië uitgedraf nie. Engeland as gasheerland is saam met Australië, Amerika en Samoa, terwyl die verdedigende kampioene, Nieu-Seeland, teen Ierland, Japan en Spanje te staan kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-814-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-709-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse komediant en voormalige Daily Show-aanbieder, Trevor Noah, se nuwe boek, Into the Uncut Grass, is heel boaan die New York Times se topverkoperlys. Die boek handel oor ‘n jong kind se reis in die wêreld verby die skadu van ‘n huis, na ‘n magiese landskap waar hy die geheime van mededeelsaamheid, verbondendheid en vrede met mense wat hy liefhet, ontdek. Die boek wat deur Christopher Myers geïllustreer is, volg op Noah se suksesvolle memoire, Born a Crime.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….