Nuus 09:00
BULLETIN 12 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA ondersoek die Loterykommissie se beweerde toesmeer van korrupsie
# AfriForum sê polisie moet hulleself regruk
# En, sokker: Bafana Bafana kraai koning oor die Republiek die Kongo met ‘n oortuigende oorwinning
# Die DA sê hy sal wetstoepassingsagentskappe en die Nasionale Loterykommissieraad ondervra in die vergadering van die portefeuljekomitee oor Handel-, Nywerheid- en Mededingendheid op 5 November. Toby Chance van die party sê daar is onthul dat die kommissie byna 70-miljoen-rand bestee het aan regskoste vir die verdediging van tientalle personeel-dissiplinêre sake tussen 2019 and 2023, en, onder die huidige raad, regsoptrede teen personeellede wat beskuldig word van die misbruik van hulle posisies en die wanaanwending van loteryfondse:
# AfriForum vra die polisie om aandag te gee aan die onbetroubaarheid van hulle misdaadstatistieke en ook aan dienslewering by polisiekantore. Die woordvoerder van AfriForum, Jacques Broodryk, sê die ouditeur-generaal het in haar verslag verskeie gevolge uitgelig van onbetroubare misdaadstatistieke. Dit sluit in onakkuraatheid en onvolledige insameling van aanklagte en slagoffers se besonderhede, wat afbreuk doen aan misdaadstatistiek en dit moeilik maak om doeltreffende misdaadvoorkomingsmaatreëls te ontwikkel en bronne na behore toe te ken:
# Statistieke Suid-Afrika rapporteer ‘n maand-tot-maand-styging van 2,9-persent in mynbouproduksie vir Augustus. Die groei word toegeskryf aan hoёr produksie in sleutelsektore soos platinum, ystererts en goud en volg op ʼn daling van 1,5-persent in Julie. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê die mynboubedryf bly ʼn belangrike bydraer tot die land se ekonomie en hierdie positiewe neiging verbeter die algehele prestasie van die ekonomie:
# Sokker: Bafana Bafana het die Republiek die Kongo oorrompel met ‘n oortuigende 5-0 oorwinning wat hulle oorheersing van Groep K bevestig in die opmars na kwalifisering vir die 2025 Afrika-nasiesbeker. Voor ‘n juigende skare van 40-duisend in die Nelson Mandelabaai-stadion, het die Suid-Afrikaners beëindruk met spel wat hulle gesamentlik bo-aan Groep K laat saam met Uganda, beide met sewe punte. Teboho Mokoena was met sy asemrowende twee doele die ster vir Bafana in Gqeberha.
# En ten slotte: ’n Eeu-oue raaisel van Mount Everest is moontlik opgelos nadat ʼn voet naby die kruin van die wêreld se hoogste berg gevind is. Dit was in ‘n sokkie met AC Irvine daarop geborduur. George Mallory se ekspedisie wou in 1924 die kruin bereik en die 22-jarige Sandy Irvine was die jongste lid. Die twee Britse avonturiers het met hul klim na die kruin verdwyn. Mallory se oorskot is in 1999 gevind. Irvine se familie het vrywillig aangebied om DNS-toetsresultate te vergelyk om sy identiteit te bevestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….