Nuus 09:00
BULLETIN 11 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom Ramaphosa se erkenning van die visumhervormings
# Die Parlement hoor van dreigemente teen die uitvoerende hoof van die Openbare Beskermer
# En opvolgtoetsing vir cholera is aan die gang in die Vaal- en Hartsrivier
# Die DA verwelkom president Cyril Ramaphosa se erkenning van die baanbreker visa-hervormings wat die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber aangepak het. Die minister het die Afstandswerk-besoekersvisa en ‘n Puntegebaseerde stelsel vir Werkvisas in die Staatskoerant afgekondig. Willie Aucamp van die DA sê die hervormings is ‘n deurbraak om buitelandse beleggings te lok, werk te skep en Suid-Afrika as ‘n wêreldklas bestemming vir geskoolde talent en toerisme te plaas:
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, het aan die Parlement gesê die uitvoerende hoof, Thandi Sibanyoni, het dreigemente ontvang wat met die tien-miljoen-rand gratifikasie aan haar voorganger, Busisiwe Mkhwebane, verband hou. Sy het aan die portefeuljekomitee vir Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling gesê Mkhwebane se eggenoot, David Skosana, het Sibanyoni in foonoproepe en boodskappe gedreig. Gcaleka sê die saak is by die polisie aangemeld. Mkhwebane se poging om die gratifikasie te ontvang, is die week deur die Hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.
# Die Departement van Water en Sanitasie sê opvolgtoetse is aan die gang nadat cholera in die Harts- en Vaalrivier in Noordwes en Noord-Kaap gevind is. Inwoners word gewaarsku om nie onbehandelde water uit dié riviere te drink of daaraan te raak nie. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê roetine-toetse het die teenwoordigheid van cholera op vyf plekke uitgewys, wat munisipaliteite aangespoor het om hul waterbehandelingsprosesse te verbeter:
# Die president van Oekraïne, Volodymir Zelensky, sê ‘n skietstaking met Rusland is nie deel van die samesprekings met Europese bondgenote nie terwyl hy vir groter Westerse steun voor die begin van die winter vra. Hy het sy voorgestelde oorwinningsplan met die leiers van Brittanje, Frankryk en Italië bespreek asook die nuwe sekretaris-generaal van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, Mark Rutte, as deel van sy besoek aan Europese hoofstede. Rutte sê dit is noodsaaklik om Oekraïne steeds van wapens, opleiding en befondsing te voorsien:
# Sokker: Die 48ste gekeurde Griekeland het Engeland in die Uefa-nasieliga op Wembley met twee-een verslaan. Dis die laagste geplaaste span wat die Drie Leeus kon klop sedert Noord-Ierland dit in 2005 reggekry het. In Oslo het Erling Haaland Noorweë se beste puntemasjien ooit geword toe hy twee doele aangeteken het in die drie-nul-sege oor Slowenië. Christopher Nkunku het sy terugkeer na die Franse span gevier met ‘n doel in die wedstryd teen Israel wat sy span met vier-een gewen het. Italië en België se wedstryd in Rome het gelykop geëindig met twee elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-531-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….