Nuus 09:00
BULLETIN 9 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bespreek wyses om brandstofpryse te verlaag
# Die DA waarsku teen die sluiting van lughawens in die Oos-Kaap
# En tennis: Monfils verwag ‘n pak slae van Alcaraz in Sjanghai vandag
# Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, sê die regering bespreek maniere om die brandstofprys te verlaag. Pryse is tans buite verhouding weens belastings soos die algemene brandstofheffing en die heffing vir die Padongeluksfonds. Die minister sê hoewel die pryse van petrol en diesel ongeveer 14-rand per liter behoort te wees, is albei meer as 20-rand per liter. Hy beklemtoon stygende lewenskoste het aanleiding gegee tot hierdie besprekings om meer verligting aan Suid-Afrikaners te bied.
Cosatu verwelkom intussen die minister se steun vir stemme wat opgaan dat brandstofpryse gesny moet word. Matthew Parks van Cosatu sê die regering moet ‘n konkrete plan saam met die sakesektor en arbeid by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad, Nedlac, ontwikkel:
# Die DA is verontrus oor herhaalde sluitings van die King Phalo-lughawe in Oos-Londen en waarsku oor ernstige gevolge vir die toerisme en ekonomie van Buffalo City. Leander Kruger van die DA verkwalik bedryfsmislukkings deur Lugverkeer- en Navigasiedienste. Volgens Kruger is die sluiting die tweede in weke en veroorsaak reusevertragings. Hy het bevestig die DA druk vir dringende regeringsingryping:
# Tennis: Die Franse veteraan Gaël Monfils verwag die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, gaan hom vandag vermorsel in die ronde van 16 in die Shanghai Meesterstoernooi. Hy het die Spanjaard in Augustus onverwags verslaan in die Cincinnati-meesters, maar verwag dié keer geen genade nie. Die 38-jarige Monfils het die tweede oudste speler naas die Switserse meester Roger Federer geword om so ver te vorder in die toernooi toe hy sy landgenoot Ugo Humbert verslaan het. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, speel vandag teen die Amerikaner Ben Shelton.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-321-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-616-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die Steve Biko en Frantz Fanon-toekenning vir Sielkundige Bevryding is aan die regspan toegeken wat Suid-Afrika se saak teen Israel by die Internasionale Geregshof vroeër vanjaar gestel het. Die span sluit in ‘n voormalige professor in regte by Wits, John Dugard, advokaat Adila Hassim, en die regspraktisyn Tembeka Ngcukaitobi. Die regspan word erken vir sy strategiese navigering van geskiedkundige en geo-politieke nuanses en sy verligte en geëmansipeerde begrip van heersende kwessies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….