Nuus 09:00
BULLETIN 8 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie benoem drie regters vir die Appèlhof
# Vier Eskom-kontrakteurs word in hegtenis geneem
# En die VN waarsku die humanitêre krisis in Libanon is besig om te vererger
# Die Regterlike Dienskommissie het drie kandidate gekies wat hulle vir aanstelling in die Appèlhof by president Cyril Ramaphosa gaan aanbeveel. Hulle is regter Piet Koen van die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof, regter Elizabeth Baartman van die Wes-Kaapse Hooggeregshof, en regter Phillip Coppin van die Gautengse Hooggeregshof. Koen was voorheen regter in oudpresident Jacob Zuma se wapenverwante korrupsieverhoor. Die RDK sê die besluit volg nadat behoorlike onderhoude met ses kandidate gevoer is en kommissielede beraadslaag het.
Die African Transformation Movement sê intussen hy staan rotsvas agter ‘n transformerende en regverdige regbank. Die Regtelike Dienskommissie het gister begin om onderhoude met 54 kandidate te voer vir 21 vakatures in verskillende Hooggeregshof-afdelings oor die hele land. Die ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê dit is gebiedend noodsaaklik dat die beste gekwalifiseerde kandidate gekies word wat staan vir die beginsels van regverdigheid, gelykheid en integriteit voor die reg:
# Eskom in Gauteng het die arrestasie van vier kontrakteurs verwelkom wat vasgetrek is na hulle onwettige kragverbruik sonder betaling gefasiliteer het. Die eienaar van ‘n oord het na bewering tien-duisend-rand direk in een van die kontrakteurs se bankrekenings inbetaal wat dit met die ander betrokke persone gedeel het. Eskom se provinsiale woordvoerder, Amanda Qithi, sê die kontrakteurs word van kragdiefstal en meterpeutery aangekla:
# Die Verenigde Nasies se Kantoor vir Gekoördineerde Humanitêre Sake waarsku die Israelse weermag se voortgesette militêre optrede en gedwonge ontruiming in Libanon veroorsaak ontheming. Die internasionale organisasie vir migrasie sê sedert drie Oktober is 541-duisend-527 mense in Libanon intern verplaas. Meer as 163-duisend mense woon in sowat 890 skuilings. Intussen het 284-duisend-894 mense sedert 23 September uit Libanon gevlug.
# Sokker: Titelhouers, Al Ahly van Egipte, speel teen Orlando Pirates van Suid-Afrika in Groep C in die groepfase van die CAF Kampioeneliga. Chabab Belouizdad van Algerië en Stade Abidjan van die Ivoorkus is die res van die groep. Ahly het Pirates in 2013 in die eindstryd met 2-0 in Egipte gewen nadat hulle met 1-elk gelykop gespeel het in Soweto. Semifinaliste in die laaste twee kompetisies, Mamelodi Sundowns, speel in groep B teen die Marokkaanse klubs, Raja Casablanca en FAR Rabat asook Maniema Union van die Demokratiese Republiek die Kongo.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-723-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….