Nuus 09:00
BULLETIN 6 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die Hooggeregshofuitspraak teen Hlope se verskyning op die Regterlike Dienskommissie
# Aktiviste vra ‘n einde aan regshulp vir misdaadverdagtes
# En, ‘n goeie naweek vir Suid-Afrikaanse rugbyspanne in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die DA verwelkom die Hooggeregshof in Johannesburg se besluit om die MK-party se poging om hierdie week se onderhoude deur die Regterlike Dienskommissie uit te stel, van die hand te wys. Dit volg op ‘n Wes-Kaapse Hooggeregshof-interdik wat gekeer het dat die afgedankte voormalige regterpresident John Hlophe deelneem aan RDK-prosesse. Willie Aucamp van die DA loof die uitspraak as ‘n oorwinning vir geregtelike integriteit, wat verseker inmenging word uitgeskakel in die aanwys van regters:
# Die Activists and Citizens Forum moedig die regering aan om regshulp te skrap vir misdaadverdagtes, na die massamoord op 18 mense in Lusikisiki. Die forum beweer belastingbetalersgeld behoort nie gebruik te word om prokureurs te betaal vir die verdediging van geweldadige misdadigers nie. Die forum se woordvoerder Dennis Bloem meen die huidige beleid lei tot ‘n toename in moorde, ontvoerings en geweldsmisdade. Hy vra ‘n onmiddellike beleidsverandering:
# ‘n Vliegtuig met 40 ton dringende mediese voorrade van die Verenigde Arabiese Emirate het gister in Libanon geland. Die Buitelandse Sake-ministerie van die Emirate sê dit onderstreep die sterk broederlike betrekkinge tussen die twee lande. Die ministerie het vroeër kommer uitgespreek oor die toename in vyandighede tussen Israel en Hizbollah, en die uitwerking daarvan op streeksbestendigheid. Libanese bronne sê tot een-miljoen mense in die land is die afgelope paar weke ontwortel. Onder hulle is meer as 200-duisend vlugtelinge, volgens die VN, oor die grens na Sirië.
# Rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne wat Saterdag Verenigde Rugby Kampioenskapwedstryde gespeel het, spog almal met oorwinnings. Die Stormers het vergoed vir verlede naweek se teleurstelling deur Zebre met 36-5 te klop. Die Haaie se 33-30-oorwinning oor die Dragons was egter nie heeltemal so maklik nie. Op Loftus het die Bulle Ulster met 47-21 vermorsel, terwyl die Leeus Edinburgh ‘n 55-21-rugbyles geleer het. Die komende naweek pak die Haaie Benetton, die Stormers kom te staan teen Edinburgh en die Bulle meet kragte met Ospreys.
# En, Airlink stel van 25 Maart 2025 af vlugte in tussen Johannesburg en Kinshasa, die hoofstad van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die uitvoerende hoof van Airlink Rodger Foster sê die lugredery, wat reeds vlugte aanbied na Lubumbashi, beskou die DRK as ‘n belangrike mark met Kinshasa wat Afrika se digbevolkste stad is. Hy sê die diens sal drie dae per week aangebied word, wat reiskeuses vir passasiers verbreed, met gerieflike verbindings na ander streeks- en interkontinentale bestemmings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….