Nuus 09:00
BULLETIN 5 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verloor sy appèl oor die kaderontplooiing-minagtingsuitspraak
# Uitspraak word voorbehou oor die interdik vir die Regterlike Dienskommissie-onderhoude
# En, rugby: Die Bulle pak Ulster met 13 Bokke in hulle wedstrydgroep
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die ANC se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys teen ‘n uitspraak wat die party skuldig bevind het aan burgerlike minagting oor kaderontplooiingsrekords. Die ANC is beveel om onveranderde rekords van 2013 tot 2021 te verskaf, wat e-posse en sosiale media-kommunikasie insluit, toe president Cyril Ramaphosa die adjunkpresident van die ANC was. Regter Brad Wanless het die aansoek met koste verwerp. Die DA noem die uitspraak ‘n oorwinning vir deursigtigheid, wat die ANC se rol in staatskaping blootlê.
Intussen is uitspraak oor die interdik om die onderhoude van die Regterlike Dienskommissie wat vir Maandag vasgestel is te staak, vir vandag voorbehou, met die uitslag wat teen vanmiddag verwag word. Die Hooggeregshof in Johannesburg het die saak gister aangehoor na aanleiding van ‘n uitspraak wat die MK Party se leier, John Hlophe, verbied het om deel te neem. Freedom Under Law se regsverteenwoordiger, Max du Plessis, het aangevoer dit is irrasioneel vir Hlophe om in die RDK te dien nadat die Parlement in Februarie, ‘n ampsaanklag weens growwe wangedrag teen hom gelê het:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het planne aangekondig om toegang tot breëband ‘n top bemagtigingsdoelwit vir Suid-Afrika te maak. Malatsi sê deur ‘n beleidsopdrag uit te reik aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, sal die inisiatief internettoegang uitbrei na ondergedienste gemeenskappe terwyl dit ekonomiese groei aanvuur. Hy beklemtoon die inisiatief sal regulatoriese versperrings en die koste van toestelle verlaag:
# Die Amerikaanse weermag sê hy het die Houthi-groep, wat deur Iran gesteun word, in Jemen aangeval en 15 teikens getref. Die Pentagon sê vliegtuie en oorlogskepe is gebruik in die aanvalle om navigasie-vryheid te beskerm. Ontploffings is aangemeld in van Jemen se groot stede, waaronder die hoofstad Sanaa. Die Houthis het sedert November aanvalle uitgevoer op omtrent 100 skepe in die Rooisee, en twee vaartuie laat sink. Die Houthis is deel van ‘n netwerk van gewapende groepe in die midde-Ooste wat deur Iran gesteun word wat ook Hizbollah in Libanon en Hamas in Gaza insluit.
# En, rugby: Die Bulle pak Ulster vanmiddag in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd op Loftus met 13 Springbokke. Direkteur van rugby, Jake White beskryf die span as die sterkste in vier jaar. Die internasionale spelers sluit Willie le Roux, Canan Moodie, Marco van Staden, Kurt-Lee Arendse, Elrigh Louw en Gerhard Steenekamp in, asook die kaptein, Ruan Nortjé. Ander spanne het besluit om hulle Bokke ‘n ruskans te gee, en spelers soos Eben Etzebeth en Cheslin Kolbe is gesien waar hulle saam met hulle gesinne ‘n vlug na Mauritius haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….