Nuus 09:00
BULLETIN 4 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bly bekommerd oor die konflik in die Midde-Ooste
# Cosatu meen die vonnis vir die voormalige finansiële hoof van Steinhoff moes strenger gewees het
# En Judges Matter wil hê die Parlement moet Mkhwebane se rassistiese uitlatings ondersoek
# President Cyril Ramaphosa is steeds erg bekommerd oor die lewensverlies, skade aan infrastruktuur en die onbestendigheid wat die Midde-Ooste kenmerk. Israel is besig met militêre optrede in Gaza en Libanon. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die gevolge van die toenemende konflik gaan verder as die streek gevoel word en dit is dus absoluut noodsaaklik vir die internasionale gemeenskap om druk op alle partye te doen om dadelik met onderhandelings te begin. Hy sê Ramaphosa doen ‘n beroep vir die onmiddellike opskorting van vyandelikhede.
# Cosatu het die skuldigbevinding en vonnisoplegging van die voormalige finansiële hoof van Steinhoff, Andries La Grange, verwelkom. Hy is tot tien jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is na hy skuldig gepleit het op ‘n aanklag van bedrog van meer as 300-miljoen-rand. Hy is die tweede persoon wat in die Steinhoff-skandaal vervolg is, na die arrestasie van die Gerhardus Burger. Matthew Parks van Cosatu sê La Grange se vonnis moes swaarder gewees het vir een van die grootste finansiële misdade in die Suid-Afrikaanse geskiedenis:
# Judges Matter doen ‘n beroep op die Parlement se Etiekkomitee om die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane se ras-gedrewe aanval op ‘n regter van die Appèlhof te ondersoek. Mkhwebane het in ‘n sosiale mediaplasing haar voortdurende stryd teen haar vervolging op mense blameer wat hoofsaaklike van Indiese afkoms is. Sy het regter Visvanathan Ponna en Nazreen Bawa uitgesonder wat die getuienis in haar vervolgingsondersoek gelei het. Judges Matter sê Mkhwebane is gebonde aan Artikel 165 van die Grondwet om die waardigheid van die howe te beskerm, maar haar kommentaar skend waarskynlik die bepalings.
# Polisieminister Senzo Mchunu het die polisie geloof wat twee verdagtes vasgetrek het in verband met die moord op ‘n 64-jarige vrou in Kraaifontein, Kaapstad. Nompumelelo Makeleni is verlede maand in die kop geskiet terwyl sy vleis verkoop het. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die twee verdagtes het Makeleni beroof en geskiet voordat hulle te voet van die toneel gevlug het:
# Sokker: Harry Maguire se kopskoot in die doodsnikke van die wedstryd het Manchester United se kragmeting teen Porto in die Europa-liga gelykop laat eindig met drie elk. United het vroeg in die wedstryd voorgeloop ná doele deur Marcus Rashford en Rasmus Hojlund, maar Porto het binne sewe minute twee keer teruggekap en teen rustyd was die spanne gelykop met twee elk. Samu Omorodion het die tuisspan nog ʼn punt besorg voor Maguire se gelykmaker in die laaste minute. United se beleërde bestuurder, Erik ten Hag, sê hulle moet wedstryde beter beheer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-949-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….