Nuus 09:00
BULLETIN 2 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA gee die regering van nasionale eenheid 50-persent vir sy eerste 100 dae
# Fikile Mbalula sê die ANC is besig met die DA se ultimatum oor Brink
# En Benjamin Netanyahu sê Iran het ‘n groot fout begaan met sy missielaanval
# Build One South Africa het die regering van nasionale eenheid versoek om ‘n omvattende plan vir staatsbestuur aan te neem. BOSA sê die regering se eerste 100 dae was 50-persent suksesvol met ‘n gebrek aan gedeelde beleidsrigtings. Dit het aanleiding gegee tot vertragings rondom sleutelkwessies soos die BELA-wet en die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan. BOSA se leier, Mmusi Maimane, het gewaarsku beleidsdooiepunte en groeiende verdeeldheid bedreig die administrasie se bestendigheid:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het aan die Daily Maverick gesê hulle sal volgende week reageer op ‘n ultimatum van die DA om te help om Cilliers Brink in te stem as Tshwane-burgemeester. In ‘n brief aan Mbalula en die ANC se hoof van koalisiestrategie, David Makhura, het die DA se federale voorsitter, Helen Zille, die uitsetting as aardskuddend vir die regering van nasionale eenheid beskryf en gesê die terugkeer van Brink is ononderhandelbaar. Die DA wil Brink terughê terwyl die ANC Kgoši Maepa of George Matjila as burgemeesterskandidate oorweeg.
# Die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu sê Iran het ‘n groot fout gemaak met die missielaanval op sy land en hy gaan daarvoor betaal. Minstens een mens is dood en verskeie ander tydens die aanval beseer wat Iran sê ‘n reaksie is op die dood van die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah en andere. Die Israeliese ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, sê hulle het geen begeerte vir oorlog nie, maar hulle kan nie sit en wag terwyl burgerlikes aangeval word nie:
# Sokker: Manchester City het sy eerste Kampioeneliga-sege van die seisoen behaal toe hy Slovan Bratislava met vier-nul verpletter het. Ilkay Gundogan, Phil Foden, Erling Haaland en James McAtee se doele het City hul eerste drie punte besorg in die kompetisie se gewysigde groepstadium nadat hulle en Inter Milan gelykop was in hul aanvangswedstryd. Arsenal spog ook met hul eerste oorwinning nadat hulle Paris St-Germain met twee-nul verslaan het. Verlede jaar se naaswenners, Borussia Dortmund, het ‘n oortuigende sewe-een-sege oor Celtic behaal, terwyl Robert Lewandowski twee doele bygedra het tot Barcelona se skitterende oorwinning van vyf-nul oor Young Boys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-825-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê hy verwelkom die nuwe vlugroetes en bykomende vlugte na verskeie van sy lughawens, veral terwyl die land in Oktober Vervoermaand vier. Air Botswana se eerste vlug tussen Gaborone en Durban vind volgende Vrydag plaas met ʼn regstreekse vlug na King Shaka Internasionale Lughawe. ACSA se woordvoerder, Ernest Mulibana, sê van een November af stel British Airways ook meer vlugte in tussen Kaapstad Internasionale Lughawe en Heathrow-lughawe in Londen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….