Nuus 09:00
BULLETIN 11 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir die volledige besonderhede van die finansiële hulpskema se regshersiening
# Cosatu sê hy gaan aan die Nasionale Dialoog deelneem
# En ‘n Israelse lugaanval eis die lewens van vyf Al Jazeera-joernaliste in Gaza
# Die DA sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se regshersiening is te laat vir die duisende studente wat reeds uit blyplekke gesit is, onder onveilige omstandighede bly en wie se akademie ontwrig is. Die hulpskema is tans besig met ‘n omvattende regshersiening van bestuursprosesse wat studenteverblyf betref en die betrokkenheid van derdeparty-vennote. Volgens berigte skuld die skema verblyfverskaffers meer as 62-miljoen-rand. Matlhodi Maseko van die DA sê die hulpskema moet die volle omvang van die regshersiening bekendmaak:
# Cosatu sê hoewel die Presidensie reg is om vandeesweek met die Nasionale Dialoog te begin, is dit ook goed om te weet van baie wat skepties daaroor is. Organisasies, insluitend die Thabo Mbeki Stigting en die Desmond en Leah Tutu Stigting, het uit die dialoog onttrek weens kommer oor die gebrek aan ‘n begroting en te min tyd om voor te berei. Die woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê die dialoog se doel is om Suid-Afrika terug te kry op die pad na vernuwing:
# Die polisie bied ʼn beloning van 150-duisend-rand aan vir inligting oor waar Jabulani Moyo hom bevind. Moyo is ʼn verhoorafwagtende gevangene wat Vrydag twee speurders in Roodepoort, Gauteng, doodgeskiet het toe hulle hom van die Roodepoort-landdroshof terug tronk toe vervoer het. In Mpumalanga, is sersant Lawrence Mtshweni Saterdag doodgeskiet toe hy op ʼn inbraak gereageer het. Die nasionale polisiekommissaris, Fanie Masemola, sê in albei gevalle word alles moontlik gedoen om die verdagtes vas te trek:
# Vyf joernaliste van Al Jazeera is dood in ‘n Israelse lugaanval naby die Al-Shifa-hospitaal in Gazastad. Anas al-Sharif, een van Al Jazeera se bekendste gesigte in Gaza, Mohammed Qreiqeh en drie kameramanne was in ‘n tent vir joernaliste by die hospitaal se hoofhek toe dit geteiken is. Die Israelse Weermag het die aanval bevestig en voer aan Al-Sharif was die hoof van ‘n terroristesel in Hamas. Al Jazeera sê die berekende sluipmoord is net nog ‘n blatante en voorbedagte aanval op persvryheid.
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het sy Cincinnati Ope-veldtog met ʼn oorwinning afgeskop. Die Spanjaard het Damir Dzumhur van Bosnië in die tweede ronde verslaan. Die 2019-kampioen van Rusland, Daniil Medvedev, het teen die Australiër, Adam Walton, verloor. Die sesde gekeurde Australiër, Alex de Minaur, en die Britse nommer twee, Cameron Norrie, is ook uit. In die vroueafdeling het die Amerikaner, Coco Gauff, met Wang Xinyu van China afgereken terwyl Jasmine Paolini van Italië die Griek, Maria Sakkari, geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-775-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….