Nuus 09:00
BULLETIN 25 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die llusie van ‘n reënboognasie het misluk
# Volodymyr Zelensky sê Rusland kan net tot vrede gedwing wo
# En, Krieket: Engeland wen derde eendagwedstryd teen Australië om reeks oop te hou
# Die EFF sê die illusie van ‘n reënboognasie het misluk en Suid-Afrikaners leef in ʼn samelewing waar die Afrika-meerderheid steeds gemarginaliseer word en wit instellings en individue wat volgens hom straffeloos voortgaan. Die party-woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê erfenis is nie net in monumente of viering van verskeidenheid nie maar in die bloed, sweet en opoffering van vryheidsvegters. Sy sê volgens die party is erfenis ook die voortslepende stryd teen sogenaamde wit-monopolie-kapitaal, korrupsie en uitbuiting:
# Die Vryheidsfront Plus sê intussen die ANC-regering se pogings om ‘n kleed van inklusiwiteit om die maatskaplike konstruk te hang, slaag nie daarin om erfenis te erken nie. Die land het gister Erfenisdag gevier met die tema: Vier die lewe van ons helde en heldinne wat hul lewe vir ons vryheid opgeoffer het. Die VF Plus-leier, Pieter Groenewald, sê erfenis moet oor nasiebou en maatskaplike samebinding gaan:
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê hulle sal nie korrupsie in Tshwane ignoreer nie ondanks koalisiegesprekke met die ANC in die metro. Die party het onlangs aan die DA-geleide veelpartyregering in Tshwane onttrek en sê hy gaan óf die ANC se mosie van wantroue teen burgemeester Cilliers Brink steun óf buite stemming bly. Mashaba sê hy is bewus van ondersteuners se teleurstelling met sy besluit om saam met die ANC te werk, maar sê hulle sal die party steeds aanspreeklik hou.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê die oorlog met Rusland kan nie net met gesprekvoering tot bedaring gebring word nie, maar Moskou moet tot vrede gedwing word. Hy het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, waarvan Rusland ʼn permanente lid is, toegespreek. Zelensky beskuldig Moskou van internasionale misdade omdat hy Oekraïnse burgerlikes en energie-infrastruktuur teiken. Hy beweer ook hy het bewyse dat die Russiese president, Vladimir Putin, drie Oekraïnse kernkragaanlegte wil aanval om die land se energienetwerk verder te beskadig:
# Krieket: Engeland het Australië in hul derde eendagwedstryd in Durham met 46 lopies geklop volgens die Duckworth–Lewis–Stern-metode. Australië het 304 vir sewe aangeteken, waarna Engeland se kaptein, Harry Brook, met 110 nie uit bygedra het tot ‘n vennootskap van 156 met Will Jacks om die derde paaltjie. Engeland het 51 van 74 balle benodig om te wen toe reën uitgesak het. Hul telling was egter volgens die DLS-formule gelykstaande aan 208, wat meer was as wat hulle benodig het. Indien die gashere Vrydag se wedstryd op Lords wen, sal hulle gelykop wees nadat die besoekers die eerste twee kragmetings ingepalm het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-241-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-658-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….