Nuus 09:00
BULLETIN 21 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N3-tolroete bly gesluit in KwaZulu-Natal en die Vrystaat weens swaar sneeuval
# Corruption Watch onthul ‘n 247-persent toename in verkrygingsreël-omseilings
# En, krieket: Afghanistan wen sy eerste eendagreeks ooit teen Suid-Afrika
# Die N3-tolkonsessie sê die tolroete bly gesluit vanaf Estcourt in KwaZulu-Natal tot by Harrismith in die Vrystaat weens swaar sneeuval. Die konsessie se bedryfsbestuurder, Thania Dhoogra, sê nat weer, gevaarlike verkeerstoestande en swak sig word op die hele roete van KwaZulu-Natal tot in Gauteng aangemeld. Sy sê die Van Reenenspas sal gesluit bly totdat die bestuurstoestande verbeter en dit veilig geag word vir mense om reise te hervat:
Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid sê ook sneeu en nat weerstoestande het dele van die provinsie getref en padgebruikers word gewaarsku om paaie wat geraak is te vermy indien moontlik. Die departement se woordvoerder, Makhaya Komisa, sê die Penhoekpas op die N6 tussen Jamestown en Komani, die Barklypas op die R58 tussen Elliot en Barkly, asook die R58 vanaf Elliot na Ngcobo is steeds gesluit weens swaar sneeu:
# Corruption Watch het ‘n toename vanaf 2021 tot 2023 van 247-persent in die wettige omseiling van verkrygingsreëls onthul. Ten spyte van hierdie styging het die gesamentlike waarde van die afwykings afgeneem van 34-miljard-rand in 2021 tot 11,9-miljard-rand in 2023. Die verslag is saamgestel deur die Universiteit Stellenbosch, wat daarop wys dat hoewel afwykings toegeneem het, was die meeste toelaatbaar kragtens verkrygingswette. Algemene redes daarvoor sluit in noodverkryging en eenpersoon-verskaffers.
# Minstens 14 mense, insluitend die voorste Hizbollah-bevelvoerder Ibrahim Aqil, is dood in ‘n aanval deur Israel op Beiroet, waarin talle gewond is. Die teiken was ‘n gebou in ‘n voorstad, met berigte wat sê tien lede van Hizbollah se Radwan spesiale magte-eenheid het ook gesterf. Die aanval het gevolg nadat Hizbollah meer as 100 missiele op die noorde van Israel afgevuur het en Israel wat die suide van Libanon geteiken het. Aqil is ook deur Amerika gesoek vir sy beweerde betrokkenheid by die bombardering van die Amerikaanse ambassade en ‘n vloot-kaserne in Beiroet in 1983.
# En, krieket: Die Proteas het gisteraand weer hulle Moses teëgekom teen Afghanistan in ‘n eendagwedstryd in Sharjah, toe hulle met 177 lopies verloor het. Die Suid-Afrikaners het Woensdag met ses paaltjies verloor, en dus die reeks van drie wedstryde ook. In gister se wedstryd het Rahmanullah Gurbaz ‘n puik honderdtal gemoker, voor die draaier Rashid Khan sy 26ste verjaardag behoorlik gevier het en vyf paaltjies laat kantel het. Môre se wedstryd is in dieselfde stadion in die Verenigde Arabiese Emirate.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….