Nuus 09:00
BULLETIN 19 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF beskuldig minister Tau daarvan dat hy die Parlement minag
# ActionSA sê Ithala Bank staar ’n dreigende ineenstorting in die gesig
# En die Amerikaanse Federale Reserwebank het rentekoerse vir die eerste keer in meer as vier jaar verlaag
# Die EFF sê hy veroordeel die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, wat volgens hom nie sy grondwetlike plig in die Parlement nakom nie. Die party beweer die minister het vanjaar net twee van die 16 vergaderings bygewoon en eenkeer minder as 10 minute gebly. Die EFF sê Tau, wie se departement gesag voer oor 18 sukkelende instellings, kon nie rekenskap gee vir sy rol om dit te stabiliseer nie. Die party doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die minister aanspreeklik te hou.
# Die GOOD-party se jeugafdeling doen ‘n beroep op die regering om die 7,4-miljard-rand vry te stel wat in vanjaar se begroting vir jeug-indiensnemingsprogramme bewillig is. Hulle voer aan die vertragings in die befondsing van die Basiese Onderwys-indiensnemingsinisiatief wat 1,7-miljoen werksgeleenthede geskep het, het die jeugwerkloosheidskrisis vererger. Die voorsitter van GOOD se jeugafdeling, Kaden Arguile, sê met meer as 44-persent van jongmense werkloos, of wat nie studeer of opleiding kry nie, moet daar dringend opgetree word om nog werkloosheid en bedrog te voorkom.
# ActionSA sê die Ithala-bank kan binnekort ineenstort as die KwaZulu-Natalse regering of die Nasionale Tesourie die bank nie ‘n kapitaal-inspuiting gee om te verseker dat hy voldoende gekapitaliseer is nie. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het die bank in KZN se lisensie opgeskort na hy nie aan gesonde finansiële vereistes kon voldoen nie. Alan Beesley van ActionSA sê hulle het deurgaans alarm gemaak oor die verwoestende uitwerking van Ithala se moontlike ineenstorting:
# Die Amerikaanse Reserwebank het rentekoerse met ‘n halwe persentasiepunt gesny, die eerste koersverlaging sedert Maart 2020. Die voorsitter van die bank, Jerome Powell, sê die stap om die rentekoers met 0,5-persentasiepunte in te kort, sal help om die land se ekonomie in ‘n positiewe rigting te stuur. Hy sê die aggressiewe optrede is bedoel om seker te maak dat hoë leningskoste wat ingestel is om inflasie te beveg, nie die Amerikaanse ekonomie skaad nie:
# Sokker: Manchester City het sy Kampioene-liga veldtog met ‘n nul-nul gelykop-uitslag teen Inter Milan by di Etihad-stadion begin. Dit was ‘n herhaling van die eindstryd in 2023 wat City in Istanboel gewen het. Jamie Gittens het twee doele aangeteken met Borussia Dortmund wat Club Brugge met drie-nul verslaan het. Celtic het hulle eerste wedstryd vir die eerste keer in 13 pogings gewen deur Slovan Bratislava met vyf-een kaf te draf. Paris St-Germain het die nuwelinge, Girona, met een-nul geklop. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê hulle vertoning was goed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-911-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-562-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….