Nuus 09:00
BULLETIN 18 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema sê die EFF se leierskap bly verenig ten spyte van Shivambu se vertrek
# Die Tesourie vereis versekering van die Poskantoor voordat hy ‘n reddingsboei uitbetaal
# En Hisbolla onderneem om die dodelike pager-ontploffings teen Israel te vergeld
# Die EFF-leier Julius Malema sê die gewese adjunkpresident, Floyd Shivambu, se vertrek was pynlik, maar die party se leierskap bly verenig. Shivambu, wat ‘n belangrike rol gespeel het om die EFF se stigtingsdokumente, grondwet en sewe belangrike pilare op te stel, het die party verlede maand verlaat om by die MK-party aan te sluit. Malema het in ʼn onderhoud met die SABC gesê hy het nie meer ʼn persoonlike verhouding met Shivambu nie:
# Die adjunkminister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, sê die Tesourie soek meer bewys dat die Poskantoor nie ʼn las op die fiskus sal wees nadat hy ʼn reddingsboei ontvang het nie. Poskantoor-base het vroeër die maand gewaarsku die instelling gaan teen volgende maand geen geld hê nie en sal bankrot verklaar word indien dit nie ʼn reddingsboei of waarborg van 3,8-miljard-rand van die regering ontvang nie. Gungubele het aan die Parlement gesê die reddingsboei sal nie lukraak toegeken word nie.
# Die DA sê die werknemer van die Emfuleni-munisipaliteit wat saam met ʼn plaaslike ANC-takvoorsitter gearresteer is, moet geskors word. Die twee word beskuldig dat hulle deel is van ʼn netwerk wat ʼn kontrakteur wat veselkabels in Sharpeville insit, vir twee-miljoen-rand afgepers het. ʼn DA-woordvoerder, Duncan Mthembu, sê hulle sal voortgaan om enige vorm van misdadigheid in Emfuleni te beveg omdat misdaad inwoners raak en van regverdige geleenthede beroof:
# Die Iran-gesteunde Libanese militante groep Hisbolla het wraak teen Israel belowe ná die noodlottige ontploffing van radio-ontvangtoestelle bekend as pagers in Libanon. Minstens nege mense is dood en nagenoeg drie-duisend is gewond nadat Hisbolla-lede se radio-ontvangtoestelle ontplof het. Iran se ambassadeur in Libanon is een van die gewondes. Die militante groep het Israel beskuldig vir wat hy vervolgbare aanvalle noem en het regverdige vergelding belowe. Israel het nog nie op die aanval gereageer nie.
# Sokker: Real Madrid het hul eerste wedstryd ter verdediging van hul titel in die Kampioeneliga teen Stuttgart met 3-0 gewen. Die 18-jarige Endrick het Madrid se jongste speler geword wat in die Kampioeneliga ‘n doel aanteken, terwyl Kylian Mbappe en Antonio Rudiger ook elk doele aangeteken het. Harry Kane is die eerste speler van Engeland wat in die kompetisie vier doele in ‘n wedstryd kon aanteken toe Bayern Munich Dinamo Zagreb met 9-2 afgeransel het. Liverpool het AC Milan 3-1 ore aangesit, terwyl Juventus, Aston Villa en Sporting ook geseëvier het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-666-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-573-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….