Nuus 09:00
BULLETIN 17 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê die regering van nasionale eenheid is absoluut noodsaaklik
# Die Universiteit Stellenbosch se omstrede Wilgenhof-manskoshuis word gesluit
# En president Ramaphosa wens Algerië se president geluk met sy herverkiesing
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê die regering van nasionale eenheid moet teen die volgende algemene verkiesing in 2029 impak en verbetering demonstreer. Die instituut se African Futures-span hou vandag ‘n seminaar om moontlike maniere vir Suid-Afrika se groei en ontwikkeling te ondersoek, en die uitwerking wat beleid wat groei bevorder, op die toekoms kan hê. Die instituut se woordvoerder, Jakkie Cilliers, sê die regering van nasionale eenheid is noodsaaklik en daarom moet dit oorleef om ware strukturele hervorming te doen.
# Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is die hoofoorsaak van onstabiliteit by hoëronderwys-instellings. Dis onthul tydens uitgebreide samesprekings met verskillende rolspelers, insluitend studenteliggame. Minister Nobuhle Nkabane sê die departement hersien die skema se befondsingsmodel om sy stelsels te verbeter en probleme uit te skakel. Sy sê aanlyn aansoeke vir 2025 kan van Vrydag af ingedien word:
# Die raad van die Universiteit Stellenbosch het besluit om die omstrede Wilgenhof-manskoshuis in sy huidige vorm te sluit. ‘n Interne verslag wat in opdrag van die instelling opgestel en deur die rektoraat aanvaar is het aanbeveel die koshuis moet gesluit word weens bewerings van rassisme en mishandeling met die ontgroening vir eerstejaars. Die universiteit sê Wilgenhof sal vervang word met ‘n moderne manskoshuis wat aan die minimum norme en standaarde voldoen vir studentebehuising by openbare universiteite. Dit sal in 2026 oopgestel word.
# President Cyril Ramaphosa het Abdelmadjid Tebboune gelukgewens met sy herverkiesing as Algerië se president. Die 78-jarige het ʼn tweede termyn gewen met 84,3-persent van die stemme waar 11,2-miljoen van die 24-miljoen geregistreerde kiesers hul kruisie getrek het. Ramaphosa sê die suksesvolle verkiesingsproses getuig van Algerië se toewyding aan demokratiese beginsels binne sy landsgrense en oor die Afrika-vasteland. Hy sê Suid-Afrika en Algerië deel ʼn geskiedenis wat gevorm is deur ʼn stryd teen kolonisasie en apartheid.
# Rugby: Die All Blacks se voorspeler-afrigter, Jason Ryan, sê hulle het die gebiede waar hulle moet verbeter fyn ontleed en goeie vordering gemaak. Nieu-Seeland het hulle laaste twee toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika verloor en slegs een van hulle vier Rugbykampioenskap-toetse gewen. Die All Blacks kom Saterdag in Sydney teen Australië te staan waar die Bledisloe-beker ook op die spel is. Ryan sê daar is druk op hulle om weer te begin wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-138-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-576-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….