Nuus 09:00
BULLETIN 16 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
Die MK-party bou en versterk sy strukture regoor die land
# Die departement van Arbeid se inspeksie by toprestaurante lei tot arrestasies
# En Shogun, The Bear en Baby Reindeer is die topwenners by die Emmy-toekennings
# Die hoof van die MK-party se presidensie, Magasela Mzobe, sê die bou en versterking van sy strukture vorder goed. Oudpresident Jacob Zuma se party het in die Mei-verkiesing net meer as 4,5-miljoen stemme gekry en die derde grootste party in die Nasionale Vergadering geword. Mzobe het aan die SABC gesê hulle het nie die luukse gehad om die party geleidelik te bou na sy vertoning in die verkiesing nie:
# Die parlement se portefeuljekomitee oor Polisie sê die polisie het omvattende planne nodig teen afpersing, insluitend behoorlike intelligensie-gedrewe optredes wat tot die skuldigbevinding van die vermeende oortreders sal lei. Die polisie sal die komitee die week inlig oor hul planne om teen die toenemende euwel van afpersing in die land op te tree. Die voorsitter van die komitee, Ian Cameron, sê dit is onaanvaarbaar dat geld onwettig van kleinsake-ondernemings, skole en gemeenskappe gehef word wat hul beperkte inkomste nog verder te wegvreet.
# Die departement van Arbeid en Indiensneming het gisteraand blits-inspeksies by twee restaurante in Pretoria – Ocean Basket en Babel – gehou. Die optrede by die luukse Babel-restaurant volg op klagtes dat die bestuur werknemers skynbaar uitbuit en swak behandel, en ook ongedokumenteerde buitelanders in diens neem. Die hoof van Binnelandse Sake in Gauteng, Albert Matsaung, sê ‘n aantal mense is in hegtenis geneem en sommige buitelanders het sonder die nodige dokumentasie gewerk:
# Rugby: Dit lyk of die stut van die All Blacks Fletcher Newell beide Bledisloe-bekertoetse teen Australië dié maand gaan misloop weens ‘n kuitbesering. Hy is beslis uit Saterdag se kragmeting in Sydney, en sal weer ondersoek word voor die her-ontmoeting in Wellington op 28 September. Die Nieu-Seelandse beheerliggaam sê Newell het die besering opgedoen in hulle wedstryd teen die Springbokke in Kaapstad, wat Suid-Afrika met 18-12 gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-458-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-585-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-52-sent per vat.
# En ter afsluiting, die samurai-reeks, Shogun, wat in Japan afspeel en The Bear was die groot wenners by die 76ste Emmy-toekennings in Los Angeles. The Bear het vyf toekennings gebuit, insluitend dié van Jeremy Allen White as Beste Akteur in ‘n Komediereeks. Shogun spog met vier toekennings en is die eerste reeks wat nie in Engels is nie, wat as Beste Drama aangewys word. Hy ontvang ook toekennings vir hoofakteur, -aktrise en regisseur. Netflix se Baby Reindeer het ook vier toekennings ontvang wat dié vir beste beperkte of antologiereeks insluit. The Daily Show is aangewys as beste geselsprogramreeks.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….