Nuus 09:00
BULLETIN 11 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp ‘n toelae van 628-miljoen-rand van die Europese Unie
# Cosatu verwelkom die vordering met die tweepot-pensioenprogram
# En Kamala Harris noem Trump ‘n skande
# Die EFF sê hy verwerp die onlangse toelaes van meer as 630-miljoen-rand wat die Europese Unie aan Suid-Afrika toegestaan het. Die toelaes sal die land se groenwaterstof-program ondersteun, insluitend die oprigting van energie-infrastruktuur en die uitbreiding van energiedoeltreffendheid. Die EFF sê die toelaes volg terwyl Suid-Afrika reeds met internasionale vennote besig is met sy program van Billike Energie-oordrag. Hy sê ook die land se energie-trajek mag nie deur buitelandse magte bepaal word wat hoofsaaklik oor hul eie omgewingsbeleid bekommerd is nie.
# Cosatu sê hy is verheug oor werkers se reaksie op die tweepot-pensioenhervormings waarvoor hulle lank gewag het. Duisende werkers het van 1 September af aansoek gedoen vir die beskikbare geld in hul fondse vir onmiddellike verligting. Onttrekkings van tussen 20- en 100-milard-rand word vir dié jaar verwag, wat ‘n hupstoot sal wees vir die land se ekonomiese groei en belasting-inkomste. Matthew Parks van Cosatu sê hulle is bly oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die pensioenfondse se moeite om die eise vinnig af te handel:
# ActionSA in die Wes-Kaap het die inhegtenisneming van die gewese burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Malusi Booi, verwelkom. Hy is verlede jaar afgedank ná ‘n klopjag op sy kantoor tydens ʼn korrupsie-ondersoek. Dit het gelei na verdagtes in georganiseerde misdaad wat intussen gearresteer is. ʼn ActionSA-woordvoerder, Julie Seton, sê Booi moet aanspreeklik gehou word:
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, beloof om ʼn president te wees wat Amerikaners se basiese regte en vryhede beskerm. Dit sluit vroue se reg in om besluite oor hul liggame te neem. Sy het deelgeneem aan ʼn presidensiële debat teen die oudpresident en Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump. Sy het immigrasie, haar standpunt oor hidrobreking en die ekonomie verdedig. Harris het Trump ʼn skande en bedreiging vir demokrasie genoem:
# Sokker: Engeland se kaptein, Harry Kane, het sy 100ste wedstryd met twee doele gevier in hul oorwinning van twee-nul oor Finland in die Nasies-liga op Wembley. Die 31-jarige is slegs die tiende speler wat in honderd wedstryde vir Engeland gespeel het en sluit aan by onder andere David Beckham en Bobby Moore. Engeland is ná Griekeland tweede in die Nasies-liga se Groep B2 met ‘n doelverskil. Griekeland, die Tsjeggiese Republiek en Georgië het ook gisteraand gewen, terwyl Duitsland en Nederland twee-elk gelykop gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-294-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-519-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….