Nuus 09:00
BULLETIN 4 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Suid-Afrikaners moenie werklose groei vier nie
# Kaapstad verwelkom die visumhervormings
# En Rusland se missielaanval in Oekraïne word veroordeel
# Die EFF sê die 0,4-persent ekonomiese groei in die tweede kwartaal vanjaar is niks om te vier nie omdat dit werklose groei is. Statistieke Suid-Afrika skryf die groei toe aan die finansiële sektor, handel en eiendom. Die EFF sê die gebiede waar werk geskep word soos landbou en die mynbedryf, het afgeneem. Die landbou-, bosbou- en visbedryf het met 2,1-persent verklein. Die party sê Suid-Afrikaners moenie mislei word deur sprake van ekonomiese groei terwyl hulle werkloos en arm is nie.
RISE Mzansi sê intussen hoewel die ekonomie ‘n geringe groei van 0,4-persent in die tweede kwartaal getoon het vergeleke met geen groei in die vorige kwartaal nie, is strukturele hervorming steeds nodig. Mabine Seabe van die party sê die groei is vér verwyder van die vyf-tot-ses-persent wat nodig is vir betekenisvolle werkskepping. Hy sê die prioriteit van die regering van nasionale eenheid moet die skepping van ‘n inklusiewe en veerkragtige ekonomie wees wat werk skep:
# Die Stad Kaapstad het die aankondiging van die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber oor die vestiging van die Trusted Tour Operator-skema verwelkom as ‘n noodsaaklike stap vorentoe om die land se visastelsel te hervorm. Die skema is gemik op die verwydering van sommige van die grootste struikelblokke wat in die pad staan van Suid-Afrika om ‘n gunsteling toerismebestemming vir China en Indië te word. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê dit pas perfek in by Kaapstad se jarelange oproep vir die hervorming van die visastelsel:
# Lande het Rusland se missielaanval op Poltava in sentraal-Oekraïne veroordeel wat 51 mense dood gelaat en meer as 200 beseer het. ‘n Militêre opleidingsinstituut en ‘n nabygeleë hospitaal is getref. Die woordvoerder van die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad, John Kirby, het die aanval as nog ‘n afskuwelike herinnering beskryf van die Russiese president Vladimir Putin se wreedheid teenoor die mense van Oekraïne. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Lammy, het die daad van aggressie veroordeel. Die Duitse minister van Buitelandse Sake, Annelena Baerbock, sê Putin se wreedheid ken geen perke nie.
# Tennis: Die Amerikaner Frances Tiafoe is vir die tweede keer in drie jaar terug in die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope. Sy teenstander, Grigor Dimitrov van Bulgarye is weens ‘n besering gedwing om te onttrek toe Tiafoe met 6-3, 6-7, 6-3, 4-1, voorgeloop het. Tiafoe kom nou teen sy landgenoot Taylor Fritz te staan wat vir die eerste keer die halfeindstryd van ‘n Grand Slam-toernooi gehaal het deur Alezander Zverev van Duitsland te klop. In die vroue-afdeling het die wêreld se nommer-twee Aryna Sabalenka, van Belarus gemaklik met Zheng Qinwen van China met 6-1, 6-2 afgereken en kom in die halfeindronde teen die Amerikaner Emma Navarro te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-603-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….