Nuus 09:00
BULLETIN 3 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF veroordeel minister Steenhuisen se aanstelling van ongekwalifiseerde personeel
# Die burgemeester van Kaapstad soek geregtigheid vir die 7-jarige Emaan Solomons
# En Oekraïne kritiseer Mongolië omdat hy Putin nie in hegtenis geneem het nie
# Die EFF beskuldig die minister van Landbou, John Steenhuisen, van wit bevoorregting en sê hy stel ongekwalifiseerde mense in belangrike posisies in sy ministerie aan. Die party se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê die minister wil ‘n woordvoerder en twee ander in belangrike poste aanstel terwyl hulle hoogste kwalifikasie matriek is. Sy sê Steenhuisen se versoek om van die minimum vereistes af te wyk is magsmisbruik:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê hy wil hê dat die swaarste moontlike vonnis aan die moordenaars van Emaan Solomons opgelê moet word. Die sewejarige meisie is in Februarie 2020 in ‘n bende-kruisvuur doodgeskiet terwyl sy in Ocean View gespeel het. Die burgemeester het gister die eerste dag van ‘n verhoor van twee bendelede bygewoon wat van die meisie se moord beskuldig word. Hill-Lewis sê die moord op Emaan was nie sinneloos nie, maar eerder berekend:
# Oekraïne sê Mongolië se versuim om die Russiese president, Vladimir Putin, ingevolge ‘n lasbrief van die Internasionale Strafhof in hegtenis te neem, is ‘n slag vir die internasionale strafregstelsel. Putin het gister in Ulaanbaatar, die hoofstad van Mongolië aangekom. Hy word deur die hof in Dan Haag gesoek vir die beweerde onwettige deportasie van Oekraïnse kinders sedert die inval in 2022. Mongolië is ‘n lid van die Wêreldhof en is verplig om Putin te arresteer. Die Oekraïnse ministerie van Buitelandse Sake sê Mongolië het ‘n beskuldigde laat wegkom en is dus deels verantwoordelik vir die oorlogsmisdade.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië kom in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope teen die Rus, Daniil Medvedev te staan. Sinner het die Amerikaner Tommy Paul met 7-6, 7-6, 6-1 uitgeskakel terwyl Medvedev, die enigste oorblywende kampioen in die toernooi, Nuno Borges van Portugal met 6-0, 6-1, 6-3 van die baan gevee het. Alex de Minaur van Australië en Jack Draper van Brittanje is ook deur na die kwarteindronde. In die vroueafdeling het die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole die Rus, Liudmilla Samsonova, met 6-4, 6-1 geklop en sy kom nou in die kwarteindronde teen die sesde gekeurde Amerikaner, Jessica Pegula te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-137-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-23-sent per vat.
# En laastens, Eskom het sy hartseer uitgespreek na die dood van sy gewese raadslid en MTN-hoof, Sifiso Dabengwa, wat Sondag aan kanker dood is. Hy was ʼn nie-uitvoerende direkteur op die nutsmaatskappy se raad van direkteure. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die Presidensie het Dabengwa in Januarie 2018 aangestel en hy was tot sy bedanking in Julie 2020 ʼn gewaardeerde lid van die raad van 13 lede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….