Nuus 09:00
BULLETIN 8 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die weermag verduidelik die peperduur Kuba-vlug
# Die GOOD-party sê minister Gwarube ondermyn die BELA-wet
# En Israel se kabinet keur Netanyahu se plan om Gazastad te beset goed
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is bewus van kommer oor ‘n huurvlug na die Kubaanse Republiek. Die DA dring aan op antwoorde nadat dit aan die lig gekom het dat die SANW 34-miljoen-rand aan ‘n huurvlug bestee het om 200 personeellede na Havana te vervoer om ‘n gradeplegtigheid by te woon. Die woordvoerder van die SANW, Prince Tshabalala, sê die hoofdoel van die vlug was om 212 Suid-Afrikaanse militêre studente wat hul mediese en ingenieurstudies in Kuba voltooi het, terug huis toe te bring:
# Die regering het die aanstelling van die Reguleringsraad goedgekeur om toesig te hou oor die Vervoer-ekonomiese Reguleerder. Die raad sal regulatoriese beginsels oor hawens, spoor, pad en lugvaart in ooreenstemming bring om billike pryse en beter diens te verseker. Kerntake sluit in die versterking van mededinging, verbruiker-beskerming, die lok van beleggings en die verskuiwing van goedere van paaie na spoorlyne. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê dis bedoel om vervoerkostes te verlaag, veiligheid te verbeter en werk te skep:
# Die GOOD-party sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, wil volgens hom regulasies gebruik om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette en die nou gewysigde Suid-Afrikaanse Skolewet te ondermyn. Die minister het die eerste twee regulasies onder die BELA-wet vir openbare kommentaar gepubliseer. Dit hou verband met basiese kwessies soos skooltoelating. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die wet se publisering, byna agt maande nadat dit van krag geword het, wek ernstige kommer:
# Israel se veiligheidkabinet het die eersteminister Benjamin Netanyahu se plan om Gazastad te beset, goedgekeur. Israel het Gaza ten volle beset nadat dit in die 1967-oorlog ingeneem is, maar het in 2005 onttrek. Die Netanyahu se kantoor sê die Israelse weermag sal voorberei om beheer oor die stad oor te neem terwyl humanitêre hulp aan die inwoners buite die gevegsones verskaf sal word. Die Israelse weermag het planne uiteengesit oor hoe die oorlog beeïndig moet word. Dit sluit in die ontwapening van Hamas, die teruggee van alle gyselaars – lewend en oorlede, en die demililtarisasie van die Gaza-strook.
# Tennis: Die 22-jarige Amerikaner Ben Shelton en 18-jarige Kanadese promotorskeuse, Victoria Mboko, is vanjaar se kampioene by die Kanadese Ope. Shelton was ‘n stel agter, maar het ingehaal en die Rus, Karen Khachanov, in Toronto verslaan om sy eerste ATP Meesters 1000-titel te buit. In die vroueafdeling in Montreal het Mboko die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka van Japan, geklop om haar eerste WTA-toer-titel op te raap. Mboko het met hierdie oorwinning met 51 plekke opgeskuif na nommer 34 op die wêreldranglys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-833-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-397-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….