Nuus 09:00
BULLETIN 29 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na Transnet
# Die Departement van Gesondheid sal binnekort sy eerste NGV-regulasies publiseer
# En tennis: Djokovic en Gauff is deur na die derde ronde van die Amerikaanse Ope
# Cosatu het president Cyril Ramaphosa se toestemming aan die Spesiale Ondersoekeenheid om berigte van ernstige wanadministrasie by Transnet te ondersoek, verwelkom. Die ondersoek sal fokus op huurooreenkomste wat moontlik aangegaan is deur onregmatige of onbehoorlike optrede deur Transnet-werknemers, amptenare, agente of enige ander betrokke partye. ‘n Cosatu-woordvoerder, Zanele Sabela, sê hulle is oortuig die ondersoek sal afkom op wanadministrasie wat bygedra het tot Transnet se mislukking:
# Die Departement van Gesondheid sê voorbereidingswerk vir die Nasionale Gesondheidsversekering word befonds met ‘n begrotingstoewysing wat vir sy NGV-eenheid geoormerk is. Die departement verwag om sy eerste konsepregulasies vir die NGV-wet binne die volgende maand vir openbare kommentaar bekend te maak. Nicholas Crisp van die departement sê hulle werk saam met die nege gesondheidsdepartemente om nuwe kontrakteringsreëlings vir primêre gesondheidsorg te toets. Hy voeg by dit is noodsaaklik om die geleentheid aan te gryp om die reuse ongelykheid in die land se gesondheidsdienste aan te spreek.
# Die GOOD-party in Drakenstein het ‘n formele versoek aan die speaker van die raad, Koos le Roux gerig vir ‘n ondersoek na die burgemeester Stephen Korabie. Die versoek spruit uit ‘n ondersoek wat die burgemeesterskantoor goedgekeur het na bewerings van uiterste wangedrag, insluitend rassisme en seksuele teistering, deur die stadsbestuurder Johan Leibbrandt. Keagen Gerste van GOOD sê die burgemeester was nie by magte om die saak te ondersoek nie:
# Die Britse eerste minister, Keir Stamer en die Duitse kanselier, Olaf Scholtz het ‘n nuwe verdrag bespreek wat talle kwessies insluitend verdediging, handel en energie tot onwettige immigrasie sal aanspreek. Duitsland is Brittanje se tweede grootste handelsvennoot. Starmer sê ‘n nuwe VK-Duitsland-verdrag is ‘n rare geleentheid om vir werkende mense tot diens te wees. Hy sê sy regering wil ‘n nuwe bestel vir die Europese Unie vestig:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic van Serwië is deur na die Amerikaanse Ope se derde ronde nadat sy teenstander en landgenoot, Laslo Djere, vroeg uit is. Djokovic was voor met 6-4, 6-4, 2-0 toe Djere beseer is. Nog ʼn Amerikaner, Taylor Fritz, het die Italianer, Matteo Berrettini, in skoon stelle verslaan terwyl die Noorweër, Casper Ruud, met Gael Monfils van Frankryk afgereken het. Die verdedigende vrouekampioen, Coco Gauff van Amerika, het die Duitser Tatjana Maria met 6-4, 6-0 geklop. Die Wimbledon-kampioen, Barbora Krejcikova van Tsjeggië, het met 6-4, 7-5 teen Elena-Gabriela Ruse van Roemenië verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-100-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….