Nuus 09:00
BULLETIN 27 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Salga waarsku teen botsende beleid oor energie-oordrag
# Die DA doen ‘n beroep op dringende optrede oor verlate geboue
# En tennis: Novak Djokovic is op die wenpad by die Amerikaanse Ope
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering sê plaaslike regerings moet die voorpunt van klimaatsoptrede neem omdat hulle die naaste is aan gemeenskappe wat daardeur geraak word. Verlede jaar in Dubai het COP28 die eerste beraad vir plaaslike klimaatsaksie aangebied om erkenning te gee aan die rol van plaaslike regerings om die gaping te oorbrug tussen nasionale beleid en die instelling op voetsoolvlak. Salga waarsku ‘n bose kringloop van weersprekende beleid wat nuwe energierolspelers inbring, sal munisipaliteite se geldinsameling en bydra tot billike energie-oordrag, belemmer.
# Cosatu sê hy is geskok oor berigte van onthutsende skandale en wanpraktyke by die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Konstruksiebedryf. Dit volg na die staatsinstelling se uitvoerende hoof, Malusi Shezi, bewerings van inmenging met verkrygingsprosesse. Die moniterings- en evaluasiebestuurder, Lunginsile Kuzane, word beskuldig van inmenging by die verskaffingskettingsproses om ‘n uiters winsgewende tender aan ‘n voorkeurbiër toe te ken. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê ‘n beplande reis van vier-miljoen-rand deur raadslede is ook stopgesit:
# Die DA in Gauteng doen ‘n beroep op die provinsiale Departement van Menslike Nedersettings om die kwessie van verlate en gekaapte geboue in die Johannesburgse middestad dringend te takel. ‘n Brand het Sondag in ‘n verlate drieverdieping-gebou in Jeppestown uitgebreek en die lewens van vier mense geëis. In Augustus verlede het jaar het 76 mense in ‘n brand in die Usindiso-gebou in Marshalltown omgekom. Mervyn Cirota van die DA sê die voortdurende brandvoorvalle en onnodige sterftes weens die afwesigheid van doeltreffende oplossings is kommerwekkend:
# ‘n Spesiale aanklaer van die Amerikaanse Federale Ondersoekeenheid, Jack Smith, het die federale appèlhof in Atlanta versoek om die strafsaak teen oudpresident Donald Trump oor sy terughouding van geklassifiseerde dokumente, weer in te stel. ‘n Regter van die distrikshof het die aanklag teen Trump, sy assistent Walt Nauta en die eiendomsbestuurder van Mar-a-Lago, Carlos de Oliveira teruggetrek na hy bevind het dat Smith se aanstelling as spesiale advokaat, ongrondwetlik is. Aanklaers voer aan regter Aileen Cannon het fouteer, want sy het minstens vier van die regulasies verkeerd geïnterpreteer.
# Tennis: Die Serwiër Novak Djokovic het die verdediging van sy titel met ʼn sege afgeskop toe hy die Moldawiër, Radu Albot, met 6-2, 6-2, 6-4 verslaan het. Die viermalige Amerikaanse Ope-kampioen wil die eerste man word om die trofee suksesvol te verdedig sedert Roger Federer dit van 2004 tot 2008 vir vyf agtereenvolgende jare kon regkry. Die Duitser Alexander Zverev, Amerikaner Taylor Fritz, en Fransman Gael Monfils het ook hul wedstryde gewen. Djokovic sê op 37 jaar voel hy nog goed op die baan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-7-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-507-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….