Nuus 09:00
BULLETIN 26 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA wil die befondsingskrisis met die kommissaris van die Nasionale Lotery bespreek
# Die DA verwelkom ‘n ondersoek na die vermiste 500-miljoen-rand by Onderstepoort
# En die wêreld se oudste man vier vandag sy 112de verjaardag
# ActionSA gaan die kommissaris van die Nasionale Lotery, Jodi Scholtz, ontmoet om kritieke kwessies waarmee die Nasionale Loterykommissie worstel, aan te spreek. Die kommissie het in die 2023/2024-boekjaar vyf-duisend-304 aansoeke van organisasies sonder winsbejag ontvang en slegs een-duisend aansoeke is sover verwerk. Alan Beesley van ActionSA, sê een dringende saak is die stagnasie in die verhoging van bewilligings die afgelope 14 jaar. Hy sê verlede jaar se een-miljard-rand bewilligings skiet vêr tekort aan die inflasie-aangepaste 2,5-miljard-rand wat benodig word:
# Die DA het die minister van Landbou, John Steenhuisen, se besluit verwelkom om ondersoek in te stel na die vermiste 500-miljoen-rand by Onderstepoort Biologiese Produkte. Die staatsinstelling se belangrikste mandaat is om diere-entstof te vervaardig. Willie Aucamp van die DA sê dis duidelik dat iets ongerymds by Onderstepoort aangaan en dis noodsaaklik dat ondersoek ingestel word:
# Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê die bevindings oor bedrieglike mediese regseise sal aansienlik help om die ontploffing in mediese wanpraktyk-litigasie teen die departement stop te sit. Volgens die Spesiale Ondersoekeenheid is 58 mediese regseise van 66-miljoen-rand in Gauteng ondersoek, terwyl ondersoeke na twee-duisend-392 mediese nalatigheidseise nog gefinaliseer moet word. Die departement se woordvoerder, Motaletale Modiba, sê in die vierde kwartaal van die 2023/2024-boekjaar het die randwaarde van mediese regseise tot 13,2-miljard-rand afgeneem:
# Tennis: Novak Djokovic het hom aangesluit by ‘n debat oor opkikkersake na Jannik Sinner vrygespreek is nadat hy positief vir ‘n verbode middel getoets is. Met die Amerikaanse Ope wat vandag begin, het die Serwiese kampioen ‘n beroep gedoen vir duidelike protokolle en ‘n gestandardiseerde benadering. Die Italiaanse wêreld nommer-een het in Maart twee keer positief getoets vir clostebol, ‘n steroïde wat gebruik kan word om spiermassa te bou. Sinner is vrygespreek na sy nou afgedankte fisoterapeut, Giacomo Naldi, erken het hy het per ongeluk die oor-die-toonbank-middel op sy hande gebruik voor ‘n behandeling.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-168-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-510-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-52-sent per vat.
# En, die wêreld se oudste lewende man, John Tinniswood, sê sy 112de verjaardag is maar net nog ‘n dag soos enigiets anders in sy lewe. Hy is op 26 Augustus 1912 in Liverpool gebore. Tinniswood, wat in ‘n versorgingsoord in Southport, Engeland woon, het in April die wêreld se oudste man geword na die 114-jarige Juan Vicente Pérez Mora oorlede is. Dit is as ‘n rekord deur die Guinness World Records verklaar. Tinniswood sê hy het nie ‘n spesiale geheim oor hoekom hy so lank leef nie, maar hy hou baie van vis en tjips elke Vrydag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….