Nuus 09:00
BULLETIN 22 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika versterk sy bande met Kanada
# Bill Clinton sê Trump skep chaos
# En tennis: Nadal het nog nie oor sy uittrede besluit nie
# Die minister van Openbare Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, en Kanada se minister van Buitelandse Sake, Mélanie Joly, het beklemtoon hoe belangrik dit is dat bande tussen dié twee lande versterk word. Joly het Suid-Afrika onlangs besoek. Die ministers het samewerking op gesondheidsgebied bespreek en veral gefokus op wêreldwye bestuur en kwessies op die vasteland se agenda. Lamola sê ‘n belangrike tema was Kanada se voorstel vir G7- en G20-samewerking in 2025 en 2026 tydens die twee lande se onderskeie presidentskappe:
# Die Suid-Afrikaanse Kindermeter 2024, wat deur die Kinderinstituut aan die Universiteit van Kaapstad begin is, toon een uit elke 25 babas sterf voor hulle vyfde verjaarsdag. Die verslag laat die lig val op hoe kinders onderwerp word aan honger, verwaarlosing, misbruik en uitdagings met ontwikkeling. Toenemende armoede en besuinigingsmaatreëls verhinder vordering en bedreig kinderontwikkeling. Volgens die verslag is sleutel-ingrypings die verbetering van moeder en kind se gesondheidsorg, voeding en vroeë geleenthede met leer. Die verslag vra vir dringende optrede om voorrang te gee aan kinderontwikkeling in Suid-Afrika.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê inwoners van die Mogale City-munisipaliteit moet hulleself voorberei op die implementering van nuwe kragtariewe. Danie Toerien van die party sê huishoudings met konvensionele kragmeters sal tussen 23- en 27-persent meer per maand moet betaal, afhangend van hulle verbruik. Hy sê die nuwe tariefstruktuur is uiters ingewikkeld, met seisoenale tariewe asook tariewe gebaseer op verbruik:
# ‘n Voormalige Amerikaanse president, Bill Clinton, sê Kamala Harris is die enigste kandidaat in die presidensiële wedloop met visie, ervaring, temperament en die wil. Hy het sy 12de agtereenvolgende toespraak by die Demokratiese Party se Nasionale Konvensie in Chicago gelewer. Clinton sê die Republikeine se kandidaat, Donald Trump, skep chaos en dan bring hy weer orde op ‘n manier terug, asof dit ‘n baie groot kuns is:
# Tennis: Die Spaanse ikoon, Rafael Nadal, sê hy het nog nie besluit oor wanneer hy uittree nie en sal nie oorhaastig ‘n besluit neem nie. Die 38-jarige wenner van 22 Grand Slam-toernooie berei tans voor om Span Europa by volgende maand se Laverbeker-kompetisie in Berlyn te verteenwoordig. Hy is saam met Carlos Alcaraz, Alexander Zverev van Duitsland, Daniil Medvedev van Rusland, Casper Ruud van Noorweë en die Griek, Stefanos Tsitsipas, in die span. Volgens Nadal sal hy sy raket bêre wanneer hy voel hy kan nie meer mededingend speel nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-585-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-500-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….