Nuus 09:00
BULLETIN 7 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF bevraagteken die koste van die vergaderlokaal van die Madlanga-kommissie
# Adjunkminister Sotyu sê toerisme kan ‘n kragtige instrument wees om vroue te bemagtig
# En ‘n Amerikaanse leërsersant word in hegtenis geneem vir die skiet van vyf soldate in Georgia
# Die EFF het ‘n dringende appèl ingedien by die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, om hul kommer te lug oor vergaderplek-kostestruktuur. Die kommissie moet korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Die EFF sê sy kommer spruit uit die presedent wat deur die Staatskapingskommissie geskep is. Dit het byna ʼn miljard-rand gekos en ʼn groot deel van die uitgawe hou verband met die huur van ʼn vergaderplek in Parktown. Die party sê Madlanga moet aandring dat ʼn munisipale saal of ander staatsfasiliteit gebruik word om koste te bespaar.
# Die adjunkminister van Toerisme Maggie Sotyu, sê vroue is die eintlike stukrag in die toerismebedryf, nie net as werknemers en entrepreneurs nie, maar ook as kulturele toesighouers en agente vir verandering. Sy het gister die Atrium Boutique Hotel in Limpopo geopen. Dit het 100-persent swart eienaarskap en 60-persent hiervan is vroue. Sotyu sê dis belangrik om vroue se ekonomiese bemagtiging te versnel, hardnekkige grense soos armoede, ongelykheid en werkloosheid af te breek en inklusiewe geleenthede vir almal te skep:
# Die DA in die Wes-Kaap het sy versoek vir die dringende hervoming van die nasionale behuisingsfondsmodel herhaal omdat dit tans langtermyn sekerheid kortkom wat vir beplanning nodig is. Dirk Wessels van die party sê ‘n sprekende voorbeeld is die Greenhaven-behuisingsontwikkelingsprojek. Hy sê die projek benodig sowat een-duisend huise in Groot Brakrivier waar ongeveer dieselfde getal inwoners tans in die behuisingsdatabasis geregistreer is:
# ʼn Amerikaanse weermagsersant op aktiewe diens is gearresteer nadat hy by die Fort Stewart militêre basis in Georgia losgebrand en vyf van sy medesoldate gewond het. Amptenare sê die verdagte, die 28-jarige sersant Quornelius Samentrio Radford, het met sy persoonlike handwapen op die soldate geskiet. Brigadier-generaal John Lubas sê die ondersoek duur voort en die motief vir die skietery is nie in die stadium bekend nie:
# Rugby: Australië se skrapping van die sogenaamde Giteau-reël gee die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, die kans om sy groep vir die Rugbykampioenskap te versterk met oorsese spelers. Die reël het die gebruik van oorsese Wallabies verbied wat nie 60 toetse gespeel het nie. Peter Horne van Rugby Australië sê hulle sal steeds plaaslike spelers kies wat van dieselfde gehalte is. Die Wallabies begin die kampioenskap met twee toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika – die 16de in Johannesburg en ‘n week later in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-629-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-379-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….