Nuus 09:00
BULLETIN 19 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Omstandighede vir vroue in Suid-Afrika is gevaarliker as in oorloggeteisterde gebiede
# Oekraïne beoog om die Russiese oorlogsmasjien te vernietig
# En hoofregter Raymond Zondo sal tydens ‘n spesiale seremonie vereer word
# Die minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê die ontstellende voorkoms van geslagsgeweld en vrouemoorde veroorsaak dat om ‘n vrou in Suid-Afrika te wees, gevaarliker is as om in oorloggeteisterde gebiede te wees. Tydens die laaste drie maande van die verlede jaar is 285 kinders en een-duisend-135 vrouens vermoor. Altesaam 18-duisend-474 vroue en twee-duisend-281 kinders is gewelddadig aangerand. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê minister se Chikunga het ‘n beroep op mans gedoen om leiding te neem om ‘n einde hieraan te bring:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, sê hulle is besig om die omvang te bepaal van brandskade by twee openbare gesondheidsfasiliteite. ‘n Brand by die Holy Cross in Flagstaff het minstens tien parkwonings verwoes wat as verblyf vir mediese personeel gebruik word. Die LUR se woordvoerder, Mkhululi Ndamase, sê in nog ʼn voorval is ʼn verbrandingskamer by die Dutywa-gemeenskapsgesondheidsentrum totaal afgebrand nadat ʼn brand buite die fasiliteit ontstaan en daarheen versprei het:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, sê die hooftaak in sy verdedigingsoperasies is om soveel as moontlik van die Russiese oorlogspotensiaal te vernietig en maksimum teen-offensiewe operasies uit te voer. Oekraïnse magte het twee weke gelede ‘n verrassingsaanval in Kursk van stapel gestuur. Zelensky sê die inval in Kursk is om ‘n buffersone te skep en oorgrensaanvalle deur Russiese magte te verhoed. Hy voeg by alles wat gedoen word om verliese aan Moskou, sy ekonomie en sy militêre-vervaardigingsbedryf toe te dien, help om te keer dat die oorlog uitbrei.
# Sokker: Manchester City het die verdediging van hulle Premierliga-titel op ʼn wennoot afgeskop en Chelsea by Stamford Bridge met twee-nul geklop. Die doelskopper Erling Haaland het die 100ste keer vir die klub uitgedraf en sy 91ste doel aangeteken terwyl Mateo Kovacic die voorsprong in die 84ste minuut verdubbel het. City se teiken is ʼn vyfde agtereenvolgende Premierliga-titel. Bestuurder Pep Guardiola sê hy is verras deur sy spelers se spelpeil:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-643-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die regbank sal hoofregter Raymond Zondo Woensdag tydens ‘n spesiale seremonie in die Konstitusionele Hof vereer, wanneer hy sy laaste uitspraak lewer voordat hy ná 27 jaar op die regbank uittree. Die uitvoerende gesag, Parlement, regbank en regsberoepe sal deelneem, met ‘n afskeidsdinee wat Dinsdag sal plaasvind. Adjunkhoofregter Mandisa Maya volg Zondo in September op en sal Suid-Afrika se eerste vroulike hoofregter word. Zondo sal veral onthou word as voorsitter van die Staatskapingskommissie van 2018 tot 2022.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….