Nuus 09:00
BULLETIN 12 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sanco verander sy standpunt oor die regering van nasionale eenheid
# Joe Biden sê hy het uit die wedloop vir die presidentskap getree om te voorkom dat Trump wen
# En die Neema-stigting vir Dowes sê Mej SA, Mia le Rouse se oorwinning is geskiedkundig
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie se nasionale uitvoerende komitee het nou besluit om die regering van nasionale eenheid te steun. Die afgelope paar maande het Sanco saam met die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty die ANC se besluit gekritiseer om ‘n regering van nasionale eenheid saam met die DA te vorm. Die organisasie se sekretaris-generaal, Mike Soko, sê die verandering in sy standpunt spruit voort uit die arrogansie van die EFF en die MK-party tydens onderhandelings met die ANC:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof gaan vandag My Vote Counts se saak oor die Wysigingswet op Verkiesingsaangeleenthede aanhoor. Toe die wet in Mei in werking getree het, het dit die vorige beperking op die 100-duisend openbaarmakingdrempel en 15-miljoen-rand jaarlikse skenkingsperk verwyder. Dit beteken dat politieke partye reuse bedrae geld van privaat skenkers mag ontvang sonder om dit te verklaar, totdat die president nuwe perke vasstel. My Vote Counts sê sonder vasgestelde finansiële drempels, bly daar steeds ‘n risiko van ongereguleerde befondsing wat nie openbaar gemaak word nie.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het besluit om hom nie weer verkiesbaar te stel nie want hy was bang die binnegevegte in sy party oor sy kandidatuur kon die Demokrate se aandag aflei. Die 81-jarige het op die 21ste van verlede maand sy bedanking uit die verkiesingswedloop aangekondig wat daartoe gelei het dat die adjunk-president Kamala Harris by hom oorgeneem as die Demokrate se kandidaat. Biden het aan CBS gesê dit sal ‘n werklike gevaar vir Amerika se veiligheid inhou indien Donald Trump vir ‘n tweede ampstermyn oorneem:
# Olimpiese Spele: Span Amerika spog met die meeste medaljes in Parys nadat sy vroue-basketbalspan die tuisspan met 67-66 gewen het om met goud weg te stap. Amerika se 126 medaljes sluit 40 goues, 44 silwer- en 42 bronsmedaljes in. China is tweede met 91 medaljes wat 40 goues insluit, gevolg deur Groot Brittanje, Frankryk en Australië. Suid-Afrika bring ses medaljes huis toe: een goue, drie silwer- en twee bronsmedaljes. Die Paralimpiese Spele begin op die 28ste van die maand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-564-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-431-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Die Neema-stigting vir Dowes het die kroning van Mia le Roux as Mej SA 2024 as geskiedkundig beskryf want dit plaas die kollig op kwessies wat die dowe-gemeenskap raak. Die 28-jarige model wat in die Vrystaat gebore is, is die eerste gehoorgestremde vrou om die gesogte titel te verower. Sy is op eenjarige ouderdom met ernstige gehoorverlies gediagnoseer. Fatima Cele van die stigting sê die Mej SA-organisasie het ook getoon wat moontlik is deur persone met gestremdhede, veral uit die gemeenskap van dowes en hardhorendes, in te sluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….