Nuus 09:00
BULLETIN 10 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema sê sy party se streekleier Moshe Mphahlele is eintlik in ‘n sluipmoordaanval dood
# Die Valke voer ‘n klopjag op ‘n verdagte militêre opleidingsfasiliteit in Modimolle uit
# En, rugby: Die wedloop vir plekke in Curriebeker-halfeindstryde raak strawwer
# Die EFF-leier Julius Malema sê die ontslape Johannesburgse raadslid en die party se streekleier, Moshe Mphahlele, is eintlik in ‘n sluipmoord dood, want die mense wat hom verlede week in Alexandra geskiet het, het gewag tot hy alleen is voor hulle losgetrek het. Malema het by die begrafnisdiens van Mphahlele buite Lebowakgomo in Limpopo gepraat. Hy sê Suid-Afrikaners word onder die demokrasie steeds vermoor en Mphahlele is nie tydens protesoptrede in Alexandra gedood nie:
# RISE Mzansi sê daar is baie meer wat nog gedoen moet word om die lewens van miljoene vroue te verander wat nie die vrugte van demokrasie pluk nie. Die party se woordvoerder, Gugu Ndlima, sê een van die voortdurende uitdagings wat miljoene vroue in die gesig staar is ekonomiese uitsluiting en segregasie. Ndima sê hoewel die Grondwet dit nie toelaat nie, is dit die realiteit waarmee die werkersklas en armes elke dag te doen kry:
# Die Valke in Limpopo het onverwags by ‘n verdagte militêre vuurwapenopleidingsfasiliteit in Modimolle opgedaag. Die woordvoerder van die Valke, Lethunya Mmuroa, sê hulle het Donderdag ‘n wenk ontvang oor die verdagte opleidingskamp op ‘n plaas in die gebied. ‘n Geheime operasie is uitgevoer. Volgens hom het die span gedurende die operasie beslag gelê op sewe gelisensieerde pistole, agt gewere en ammunisie wat waarskynlik tydens opleiding gebruik is:
# Rugby: Die voorlopers op die punteleer, die Blou Bulle, het verskeie spelers vir vanmiddag se Curriebekerwedtryd teen die Griffons op Loftus geroteer. In een van die veranderings begin Canan Moodie op heelagter, met Boeta Chamberlain wat na losskakel verskuif. In die eerste wedstryd vanmiddag kom die spanne wat derde en viede op die punteleer is, die Leeus en die Pumas, in Johannesburg teen mekaar te staan. Die Westelike Provinsie moet hulle tuiswedstryd wen teen die Cheetahs, wat tweede geplaas is, om steeds in tel te bly. En môremiddag verwelkom die Haaie die Griekwas in Durban.
# En, twee Amerikaanse ruimtevaarders wat op 5 Junie op ‘n toetssending na die Internasionale Ruimtestasie vertrek het, moet moontlik heelwat langer bly as wat beplan is. Barry Wilmore en Sunita Williams het met die eerste bemande Boeing Starliner-ruimtevaartuig na die ruimtestasie vertrek om dit uit te toets. Probleme het met die naderende landing ontwikkel en hulle sal dalk op ‘n ander manier moet huiswaarts keer. Volgens Nasa is een moontlike oplossing om hulle terug te bring met ‘n sending wat in September vertrek maar eers in Februarie 2025 terugkeer aarde toe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….