Nuus 09:00
BULLETIN 6 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika is bekommerd oor die gevaarlike misdadigers wat na Eswatini gedeporteer is
# Die burgemeester van Hiroshima waarsku oor kernwapens
# En Olimpiese Spele: Donald Trump stig ‘n Withuis-taakmag vir 2028
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking is bekommerd oor die onlangse aankoms van gevaarlike misdadigers van verskillende nasionaliteite vanuit die VSA na Eswatini. Eswatini het verlede maand aangekondig dat hulle met die VSA ooreengekom het om vyf van die gevaarlikste misdadigers in hul gevangenisse te huisves, met die moontlikheid dat nog meer as 150 terroriste sal volg. Die vyf mans is afkomstig van Kuba, Jamaika, Viëtnam, Laos en Jemen. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dit kan Suid-Afrika se nasionale veiligheid raak:
# Die medevoorsitter van die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Verdediging, Malusi Gigaba, ontken bewerings dat hy die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, teen verantwoordbaarheid beskerm. Die DA beweer die minister word daarteen beskerm om rekenskap te gee oor die ontplooiingsramp in die Demokratiese Republiek die Kongo, en die vermiste 813-miljoen-rand waarvan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie rekenskap kan gee nie. Gigaba sê die DA se bewerings is ongegrond en oneerlik, en beklemtoon dat die minister talle komiteevergaderings bygewoon het waar sy rekenskap gegee het van die departement se werk.
# Die Stad Tshwane sê hy is steeds ‘n dinamiese spilpunt vir sakegeleenthede in die land. Volgens die metro se 2023-2025 Beleggingsopbrengsverslag is meer as 187-miljoen-rand gegenereer deur die regstreekse ekonomiese uitwerking van onlangse konferensies, spitsberade en tentoonstellings. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa sê die geleenthede is nie slegs mylpale op Tshwane se kalender nie, maar enjins vir ekonomiese groei, innovering en wêreldwye kontak:
# Hirosjima se burgemeester, Kazumi Matsui, waarsku die Kernsperverdrag is op die rand van ineenstorting. Dis vandag 80 jaar sedert Amerika se atoombom op Hirosjima in Japan, waarin meer as 200-duisend mense dood is. Meer as 70 lande het die verdrag onderteken wat die verspreiding van kernwapens beperk en die vreedsame gebruik van kernenergie aanmoedig. Amerika en Rusland was egter daarteen gekant. Matsui het kommer uitgespreek teen die idee dat sommige lande reken kernwapens is noodsaaklik vir nasionale verdediging.
# Olimpiese Spele: President Donald Trump van Amerika het ‘n uitvoerende bevel onderteken om ʼn Withuis-taakspan saam te stel vir die 2028 Olimpiese Spele in Los Angeles. Volgens die bevel moet die taakspan sekerheid en beplanning vir die Spele koördineer, en die visumproses en sertifisering vir atlete, afrigters, die media en ander besoekers vereenvoudig. Trump, wat as die taakspan se voorsitter sal optree, sê dit sal die beste Spele wees wat die wêreld nóg gesien het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-463-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….