Nuus 09:00
BULLETIN 8 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se komitee oor Justisie loof die Nasionale Vervolgingsgesag se optrede teen Bosasa
# Giwusa vra vir die nasionalisering van die petrochemiese bedryf
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie wil vasstel of die a-pokke-uitbreking ‘n wêreldwye noodgeval is
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die Nasionale Vervolgingsgesag geloof vir sy voortgesette werk teen korrupte aktiwiteite. Die NVG het beslag gelê op bates van meer as 53-miljoen-rand van Bosasa-base en hulle gesinne wat van korrupsie beskuldig word. Die duurste bates sluit in twee woonstelle van 17-miljoen-rand in Italië wat aan Bosasa se gewese bedryfsbeampte en fluitjieblaser, Angelo Agrizzi, behoort. Die komitee sê alle individue wat uit Bosasa-korrupsie voordeel getrek het, moet aanspreeklik gehou word.
# Die vakbond Giwusa verwelkom die brandstofprys-daling in Augustus, maar hou vol slegs openbare eienaarskap van die petrochemiese bedryf kan volhoubare, bekostigbare, skoon brandstof waarborg. ‘n Sterk rand het veroorsaak dat die petrolprys met 15 sent per liter daal en die dieselprys met tussen 17 en 28 sent per liter. ʼn Vakbondwoordvoerder, Koketso Phasha, sê die daling sal vir baie landsburgers verligting bring:
# Die DA het die aangepaste kragtariewe en tariefstruktuur in die Mogale City-munisipaliteit na die Openbare Beskermer vir ondersoek verwys. Tyron Gray van die party sê verlaagde tariefverhogings van 12,74-persent is in Junie deur die raad goedgekeur. Maar, hy sê ‘n bykomende item is verlede maand ter tafel gelê wat in sommige gevalle die huishoudelike tarief vyfvoudig verhoog:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het ʼn noodvergadering met internasionale deskundiges aangevra te midde van ʼn toename in a-pokke-gevalle. Die virus het vanjaar in tien Afrikalande voorgekom wat Suid-Afrika en die Demokratiese Republiek die Kongo insluit. Meer as 96-persent van alle gevalle en sterftes is in die DRK aangemeld. Ghebreyesus sê die deskundiges sal hom tydens die noodvergadering inlig of die a-pokke-uitbreking in Afrika ʼn internasionale gesondheidsnoodsituasie is.
# Rugby: Die Wallabies se nommer agt Harry Wilson kry die voorry jammer wat die meeste sal lei onder die nuwe reëls van die Rugby-kampioenskap, wat Saterdag begin. Dit behels ‘n 30-sekonde tydsbeperking om skrums en lynstane te vorm. Wilson is bly die spel word vinniger gemaak, maar glo dit sal die stutte en die haker swaar tref omdat hulle rieme na die skrums sal moet neerlê. Doelskoppers kry ook net 60-sekondes vir ‘n doel- of strafskop, en die 20-minute rooikaart sal onder sekere omstandighede geld.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-895-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-395-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….