Nuus 09:00
BULLETIN 7 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van ekonomiese beleid wat vroue bemagtig
# Die EFF kritiseer Ramaphosa se presidensiële izimbizo -geleenthede wat 44-miljoen-rand kos
# En Olimpiese Spele: Meer as 40 atlete toets positief vir Covid-19
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê die ekonomiese groei wat die party nastreef moet lei tot die bemagtiging van vroue, jongmense en kwesbare groepe. Hy het gister die ANC se nasionale uitvoerende komitee se lekgotla toegespreek wat in Boksburg in Ekurhuleni gehou is. Ramaphosa sê die lekgotla het ingestem dat hulle ekonomiese beleid moet instel en meer klem moet plaas op infrastruktuur, landbou, vervoer, energie en industrialisasie:
# Die EFF sê die misbruik van staatsgeld op president Cyril Ramaphosa se presidensiële imbizo-geleenthede is ‘n skande, oneties en onaanvaarbaar. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het onthul die vier geleenthede het belastingbetalers 44-miljoen-rand gekos. Die geleenthede wat oor agt maande gehou is, se doel was om kommer oor openbare dienslewering te bespreek. Die EFF sê die verkwistende uitgawes ontneem die Afrikakind van onderwys, behuising, infrastruktuur, veiligheid en ʼn toekoms.
# Cosatu sê skole moet ʼn veilige plek wees vir kinders waar onderwysers ʼn omgewing kan skep wat bevorderlik is vir leer. In die jongste voorval is die omstrede pastoor Paseka Motsoeneng op video vasgevang waar hy ʼn kapmes by die Matsediso Primary School in Katlehong rondswaai en twee kinders met geweld verwyder. Zanele Sabela van Cosatu sê Suid-Afrikaners moet ophou om die geweld, bendes en wetteloosheid te verdra wat jare lank al in baie township-skole endemies is:
# Die Nobelpryswenner en baanbreker in mikro-finansies, Muhammad Yunus, is aangestel as Bangladesj se tussentydse leier. Dit volg nadat eerste minister Sheikh Hasina Maandag bedank en landuit gevlug het ná weke lange dodelike oproer. Minstens 300 mense is dood nadat toegeslaan is op studentebetogings teen voorkeur-werkkwotas. Yunus het vrese oor onstabiliteit in die land besweer en sê Hasina se vertrek is ʼn rewolusie.
# Olimpiese Spele: Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die feit dat meer as 40 atlete in Parys positief getoets is vir Covid-19 toon ‘n nuwe internasionale styging in gevalle. Die organisasie sê die virus wat die pandemie veroorsaak het, is steeds in omloop en waarsku lande moet hulle reaksiestelsels opskerp. Maria van Kerkhove van die WGO sê data uit meer as 80 lande toon die persentasie positiewe gevalle het onlangs toegeneem. Sy sê die virus ontwikkel en verander gedurig, wat vir die mensdom ‘n risiko inhou van ‘n meer ernstige virus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-en-83-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-390-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….