Nuus 09:00
BULLETIN 1 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Ramaphosa lei die land oor ‘n afgrond
# Die adjunk-minister van Handel en Nywerheid sê Suid-Afrika moet ‘n ekonomie skep wat klem lê op uitvoere
# En, Amerika het ‘n pleitooreenkoms aangegaan met die beweerde 9/11-meesterbrein
# Die EFF sê die huidige administrasie het gewys hy het nie die vermoë om die land se dringende probleme aan te spreek nie. Die party het die President se begroting in die Nasionale Raad van Provinsies verwerp wat reeds in die Nasionale Vergadering goedgekeur is. ‘n Begroting van 612-miljoen-rand is vir die 2024/2025-boekjaar aan die Presidensie toegewys. Mandisa Makesini van die EFF sê president Cyril Ramaphosa se onvermoë om behoorlik oor die ekonomie toesig te hou, stuur die land oor die afgrond:
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield, sê ‘n belangrike fokuspunt van die nuwe administrasie is om uitvoere te bevorder om die risiko van stadige plaaslike groei teen te werk en geleenthede vir groter groei te identifiseer. Suid-Afrika se uitvoere in Mei vanjaar was meer as 178-miljard-rand. Whitfield sê ʼn uitvoer-georiënteerde ekonomie is moontlik deur maatreëls in te stel om plaaslike nywerhede se mededingendheid op wêreldmarkte te bevorder, uitvoerprosesse te vereenvoudig en handelsversperrings te verwyder.
# Gauteng se LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê die 2024/2025-begroting benadruk versnelde optrede om plaaslike en globale gesondheidsdoelwitte teen 2030 te bereik. Die departement ontvang 64,8-miljard-rand vir hierdie boekjaar en 202,6-miljard-rand oor die mediumtermyn. Nkomo-Ralehoko sê ʼn belangrike faktor is universele gesondheidsdekking en toegang tot goeie gesondheidsorg:
# Die Amerikaanse Departement van Verdediging het ‘n pleitooreenkoms met drie van die mans bereik wat beskuldig word dat hulle die 11 September 2001-aanvalle op die Wêreldhandelsentrum en die Pentagon beplan het. Byna drie-duisend mense in New York, Virginië en Pennsilvanië is in die al-Qaeda-aanvalle dood. In ruil vir die terugtrekking van die doodstraf as ‘n moontlik vonnis, het die drie, insluitend die meesterbrein, Khalid Sheikh Mohammed, ingestem om skuldig op al die aanklagte te pleit, insluitend die moord op die twee-duisend-976 mense op die klagstaat.
# Sokker: Die Premierliga het die heersende kampioene, Manchester City, met 48,07-miljoen-rand beboet omdat hulle wedstryde se afskop vertraag of dit weer laat begin. Daar was die afgelope twee seisoene 22 sulke voorvalle met agt in die 2022/2023-veldtog en 14 verlede seisoen. City het verskoning gevra vir die oortredings. Die Premierliga sê reëls in verband met afskoppe en weer begin dra by dat die kompetisie volgens die hoogste professionele standaard georganiseer word en verskaf sekerheid aan ondersteuners en deelnemende klubs.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-656-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-445-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….