Nuus 09:00
BULLETIN 5 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF ondersteun die nuutgestigte Ad Hoc-komitee wat Mkhwanazi se bewerings ondersoek
# TLU SA sê hy sal nie aan die Nasionale Dialoog deelneem nie
# En Sadou veroordeel die jongste boelie-gedrag in skole
# Die EFF sê die Ad Hoc-komitee wat gestig is om die bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkwanazi, te ondersoek, is ‘n kritieke stap om die diepgewortelde kwessies wat Suid-Afrika se regstelsel teister, aan te pak. Die komitee se opdrag is om ernstige bewerings van korrupsie, infiltrasie van kriminele sindikate en politieke inmenging in die land se wetstoepassingsagentskappe te ondersoek. Hy begin vandag met sy werksaamhede met die verkiesing van ‘n voorsitter. Die EFF sê hulle is ten gunste van ‘n voorsitter wat nie verbonde is aan die regering van nasionale eenheid nie.
# Die landbou-organisasie TLU SA gaan nie aan die Nasionale Dialoog later die maand deelneem nie en sê die land het nie nog ‘n ideologiese imbizo nodig wat net die ANC se bestaande beleidsrigtings herbevestig nie. Die dialoog is gemik op die vestiging van eenheid en die vind van oplossings vir Suid-Afrika se uitdagings. Bennie van Zyl sê ‘n ware nasionale gesprek sal slegs moontlik wees wanneer daar ‘n gedeelde begrip is van die waardes en beginsels wat ‘n land laat groei:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie het die voortdurende boelie-voorvalle by skole veroordeel. ‘n Graad 8-leerder van die Thuto-Lesedi Secondary School in Vosloorus, Ekurhuleni, is verlede Vrydag deur ‘n groep mede-leerders aangerand, en hy moes hospitaalbehandeling kry. In die Oos-Kaap is ‘n 18-jarige leerder van die David Mama Senior Secondary School verlede week deur drie seuns op ‘n skoolbus aangerand. SADOU se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê boeliegedrag word steeds nie aangemeld nie weens slagoffers wat dit as vernederend beskou:
# Die Amerikaanse prokureur-generaal, Pam Bondi, het federale aanklaers opdrag gegee om ‘n groot jurie-ondersoek te begin na voormalige president Barack Obama en sy administrasie se hantering van intelligensie oor Russiese verkiesingsinmenging. Die Amerikaanse direkteur van Nasionale Intelligensie, Tulsi Gabbard, het verlede maand dokumente gedeklassifiseer wat sy beweer die Obama-administrasie se gevolgtrekking ondermyn dat Rusland president Donald Trump probeer help het om Hillary Clinton te verslaan. Sy het versoek dat die Departement van Justisie vir Obama en senior amptenare in sy administrasie ondersoek vir ‘n beweerde sameswering. Demokrate het Gabbard se bewerings heftig betwis.
# Tennis: Die driemalige kampioen Novak Djokovic van Serwië het uit die Cincinnati Ope onttrek en ‘n nie-mediese rede aangegee. Die 24-jarige Grand Slam enkelspelkampioen het nog nie weer gespeel sedert sy halfeindstryd nederlaag verlede maand teen Jannik Sinner op Wimbledon nie. Djokovic is geskeduleer om aan die Amerikaanse Ope deel te neem wat hy drie keer gewen het. Die laaste keer was in 2023 toe hy met Daniil Medvedev afgereken het. Die 38-jarige het tot dusver die jaar in drie groot toernooie elke keer in die halfeindstryde die aftog geblaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-234-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….