Nuus 09:00
BULLETIN 24 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Bevoorradingsraad sê verkrygingsprosesse sal nou meer doeltreffend wees
# Die Trump-veldtog dien ‘n klag oor Harris watBiden se veldtogfondse oorneem
# En, sokker: Fifa word gedagvaar oor die internasionale kalender
# Die Bevoorradingsraad sê die ondertekening van die Wetsontwerp op Openbare Verkryging is ‘n mylpaal vir die bevoorradingsbedryf en die Suid-Afrikaanse ekonomie in die breë. Die wetgewing is ‘n omvattende raamwerk wat ontwerp is om verkrygingsprosesse gladder te laat loop, en wat die omgewing vir aankope en bevoorradingskettings meer deursigtig en doeltreffend maak. Die raad se voorsitter, Kamogelo Mampane, sê ‘n nuwe era van ekonomiese transformasie en steun vir plaaslike vervaardiging en dienste is ingelui:
Die vakbondfederasie Cosatu het intussen president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die langverwagte Wet op Openbare Verkryging verwelkom en sê dit lê die grondslag vir ‘n enkele openbare verkrygingstelsel. Openbare verkryging maak ‘n aansienlike deel uit van die staat se uitgawes en beloop miljarde rand per jaar. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê daar was nog nie van te vore ‘n enkele wetgewende raamwerk vir openbare verkrygings nie en talle staatsinstellings is gevolglik oopgelaat vir misbruik en korrupsie:
# Die DA in Johannesburg eis onmiddellik duidelike en eerlike kommunikasie van Johannesburg Water. Talle voorstede word vanoggend deur ‘n wateronderbreking geraak as gevolg van onbeplande instandhouding van die Kommando-stelsel. Kyle Jacobs van die DA sê Johannesburg Water se herhaalde en vae verklarings verskaf min inligting oor voortslepende probleme by die Kommando-stelsel en bied geen riglyne oor hoe die probleme opgelos gaan word nie:
# Oudpresident Donald Trump se veldtog het ʼn klag by die Federale Verkiesingskommissie ingedien. Hulle beskuldig president Joe Biden en adjunkpresident Kamala Harris dat hulle wette oor federale veldtogfinansiering oortree. Biden het Sondag sy herverkiesingsveldtog beëindig en die kommissie ingelig dat sy komitee die naam na Harris for President verander, met Harris as begunstigde. Trump se veldtogbeampte, David Warrington, sê die geld wat vir Biden se herverkiesing ingesamel is, kan nie na Harris se presidentsveldtog oorgedra word nie en voer aan dis ʼn skaamtelose vergryp aan geld.
# Sokker: Europese lande se nasionale ligas en unies, insluitend die Premierliga en die Professionele Sokkerspelersvereniging, dagvaar die wêreldbeheerliggaam, FIFA. Hy word beskuldig dat hy versuim het om oor die onlangse kalenderveranderinge te onderhandel, soos die instelling van ‘n Wêreldbekerkompetisie vir klubs bestaande uit 32 spanne. Die ligas sê FIFA skaad die finansiële belange van nasionale ligas en die welstand van spelers. FIFA sê die kalender is slegs ‘n instrument om te verseker dat internasionale sokker kan voortbestaan en floreer saam met plaaslike en kontinentale klubsokker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-904-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-415-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….