Nuus 09:00
BULLETIN 22 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA doen ‘n beroep op die minister van Polisie om nie gekwalifiseerde reserviste oor die hoof te sien nie
# Skenkings vir die Demokratiese Party neem toe nadat Biden vir Harris ondersteun
# En rugby: Sbu Nkosi het volgens berigte positief getoets vir ‘n verbode middel
# ActionSA doen ‘n beroep op die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om gekwalifiseerde polisiereserviste ook in ag te neem in sy nuwe werwingsveldtog. Die minister wil die polisie se vermoë om misdaad te bekamp ʼn hupstoot gee deur hul werksmag uit te brei. Dit sluit in die aanstelling van tien-duisend polisie-rekrute in die 2024/2025-boekjaar. ActionSA se woordvoerder, Dereleen James, sê polisiereserviste reg oor die land bring hulle kant in die stryd teen misdaad:
# Die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad vier 40 jaar van veilige bedryf sedert Eenheid 1 in 1984 aangeskakel is. Die aanleg het betroubaar een-duisend-800-megawatt se skoon energie gelewer, wat Suid-Afrika se ekonomie aansienlik bevoordeel. Koeberg het erkenning gekry met talle NOSCAR-veiligheidstoekennings en speel ‘n deurslaggewende rol in energieverskaffing aan die Wes-Kaap. Die uitvoerende hoof van Eskom Dan Marokane lig die voortgesette belangrikheid daarvan uit met die vermindering van koolstofuitlatings en die versekering van energiesekerheid. Hy sê die lisensieverlenging van die aanleg verseker die bedryf daarvan tot 2044.
# Die DA in die Wes-Kaap sê hy ondersteun die provinsiale regering se versoek aan die Landbouminister, John Steenhuisen, vir ʼn tydelike verbod op die vervoer van diere met gesplete hoewe soos skape, varke en beeste. Dit is om te keer dat bek-en-klouseer wat in Humansdorp in die Oos-Kaap uitgebreek het, versprei. Drie-en-twintig plase in die Humansdorp-distrik en een plaas in Oos-Londen het diere wat positief getoets het. Noko Masipa van die DA sê geen gevalle is tot dusver in die Wes-Kaap aangemeld nie:
# Skenkings aan die Demokratiese Party het toegeneem nadat president Joe Biden afgesien het van sy poging om herverkies te word en sy steun aan sy adjunk, Kamala Harris, toegesê het. ‘n Aantal van die grootste skenkers het ná Biden se onlangse debatsvertoning hul bydraes aan die party weerhou weens toenemende kommer oor sy geestelike vermoë. ActBlue, wat skenkings aan Demokratiese kandidate hanteer, sê bydraes het met agt-miljard-rand gestyg sedert Biden se steun aan Harris. Sowat vier-duisend Demokrate trek in Augustus in Chicago saam om ‘n benoeming aan te wys.
# Rugby: ‘n Lid van die Springbokke wat in 2019 die Wêreldbeker gewen het, Sbu Nkosi, is skynbaar positief getoets vir ‘n verbode middel. Die Sondagkoerant Rapport berig die 28-jarige het positief getoets vir ‘n anaboliese steroïed wat veral liggaamsbouers gebruik. Hy is een van drie Springbokke wat Wêreldrugby in Mei getoets het. Nkosi kan vir tot vier jaar geskors word indien sy tweede monster ook positief toets. Hy is die vierde Springbok sedert 2019 wat positief toets vir ‘n verbode middel ná Aphiwe Dyantyi, Chiliboy Ralepelle, en Elton Jantjies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-918-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-404-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….