Nuus 09:00
BULLETIN 16 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa is bemoedig deur die regering van nasionale eenheid
# Eskom is ’n 20 jaar verlenging toegestaan vir Koeberg Eenheid 1
# En minister Lamola sal vandag sy Britse ampsgenoot in Londen ontmoet
# Business Leadership South Africa sê die positiewe sentiment danksy die regering van nasionale eenheid is bemoedigend. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê in haar nuusbrief daar is ‘n paar goeie tekens hoe korrupsie getakel word. Die nuwe minister van Openbare Werke het onthul die departement van Openbare Werke het meer as 300-miljoen-rand aan kuber-verwante diefstal verloor. Sy sê die vordering met die plundering by die VBS-bank is ook bemoedigend. Mavuso sê die bestendiging van die regering van nasionale eenheid en die vorming van ʼn samehangende hervormingsagenda is noodsaaklik
# Die Omgewingsinstituut van die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe het kritiek uitgespreek oor die Nasionale Kernkragreguleerder se goedkeuring vir die verlenging van die leeftyd van Koeberg se Eenheid Een in Kaapstad met 20 jaar. Die reguleerder sê dit voldoen aan nasionale wetgewing en internasionale standaarde en volg op ‘n proses van openbare deelname, insluitend agt openbare verhore. Francesca de Gasparis van die instituut sê talle veiligheidskwessies by Koeberg moet nog aandag ontvang:
# Die polisie het 14 mense gearresteer in verband met die ontvoering van ʼn Zimbabwiese sakepersoon in Gauteng. Dit sluit drie Chinese en twee Mosambiekse burgers in. Die verdagtes het die man volgens berigte Sondag naby sy werksplek ontvoer. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ʼn multidissiplinêre span het die sakepersoon in Diepkloof, Soweto, gevind en die ontvoerders se spoor is tot by ʼn woonstel in Greenstone Park en in Sandton gevolg:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, ontmoet vandag die Britse minister Buitelandse Sake, David Lammy. Dit is Lamola se eerste internasionale ontmoeting sedert hy in die nuwe portefeulje aangestel is. Lamola sê hulle sal tydens die besoek globale kwessies bespreek en bilaterale ekonomiese bande versterk. Hy het aan die SABC gesê hy sal ook die Britse gemeenskap toespreek om Suid-Afrika se 30 jaar van demokrasie te vier:
# Swem: World Aquatics sê die internasionale toetsagentskap het besluit om Chinese atlete voor die Olimpiese Spele in Parys agt keer te toets. Dit is twee keer meer as die standaard. Voor die Tokio Spele in 2021 het 23 Chinese swemmers positief getoets vir trimetasidien wat prestasie kan verbeter, maar hulle is steeds toegelaat om deel te neem. Elf van die 23 swemmers sal in Parys deelneem. World Aquatics sê hierdie situasie het vertroue in die stelsel teen opkikkers verswak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-839-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-426-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….